omgewing — Afrikaans

Ten spyte daarvan dat die woord “omgewing” byna daagliks deur almal gebruik word, is dit ’n uiters moeilike woord om te definieer. Die definisie hang af van die konteks waarin die woord gebruik word en dit kan ’n hele verskeidenheid van uiteenlopende betekenisse hê. Die woord “omgewing” is eintlik te beperk vir die kosep wat dit poog om oor te dra. “Omgewing” is inderwaarheid ’n verhoudingskonsep, en dit is ’n uiters belangrike feit. Vanuit ’n omgewingsbestuur- en geografiese perspektief beteken “omgewing” die wedersydse onderlinge verhoudings tussen mense asook hulle wedersydse interaksies met die natuurlike en die mensgemaakte komponente van die omgewing waarin hulle binne ’n spesifieke, afbakenbare gebied leef. Die gebied waarbinne al hierdie interaksies plaasvind, is ’n ruimtlike entiteit wat op ’n kaart aangedui kan word (kyk “demarcation”). Uit ’n suiwer natuurwetenskaplike perspektief verwys “omgewing” na die natuurlike komponente van ’n sisteem en die wedersydse verhoudings. Mense vorm nie ’n natuurlike komponent en integrale deel van so ’n sisteem nie. Uit ’n suiwer sosiaal-wetenskaplike perspektief verwys die term na ’n sosiale omgewing en die interaksies binne families, groepe en gemeenskappe, terwyl die natuur geen rol speel of ’n integrale deel van die sisteem uitmaak nie. Ander komponente van die breë, uitgebreide perspektief oor die “omgewing” is dat spesifieke “subsisteme” en verhoudingstoestande geïdentifiseer kan word om wetenskaplike fokus op te konsentreer. Dit sluit die ekonomiese, die kultureel-historiese, die beboude, die politieke, die werkers- en arbeids-, die industriële, die kleinhandels- en die vermaak- en rekreasie-omgewings, en ’n magdom ander in. Die Wieg van die Mensdom Wêrelderfenisterrein kan beskou en bestudeer word as ’n natuurlike omgewing wat vir die geologie en die paleontologie belangrik is. Dit is ook ’n argeologies belangrike omgewing,’n kultuurhistories belangrike omgewing, ’n gebied wat vir omgewingsbestuurder en geografiese navorsing van belang is, ’n toerisme- en ontspanningsomgewing, en selfs as ’n sosiopolities belangrike gebied. Die term “omgewing” het dus ’n magdom betekenisse en dit beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Die konteks waarin die term gebruik word, is dus uiters belangrik.