lugfotografie — Afrikaans

Die proses waardeur foto’s van die aardoppervlak vanaf ’n sekere hoogte bokant die oppervlak geneem word. ’n Lugfoto is ’n afstandswaargeneemde beeld van ’n gedeelte van die aardoppervlak wat deur ’n kamera vanuit ’n vliegtuig vasgelê is. Die vroegste lugfoto’s dateer van ongeveer 250 jaar gelede en is geneem deur kameras wat aan lugballone gemonteer was. Dit is aanvanklik gebruik vir militêre observasie in die Amerikaanse Burgeroorlog (1861–1864). Dieselfde metode van militêre observasie is deur die Britse magte tydens die Tweede Vryheidsoorlog (of die sogenaamde “Anglo-Boereoorlog”) in die destydse Boere-republieke van Transvaal en die Oranje Vrystaat (in wat vandag Suid-Afrika is) in 1899–1902 gebruik. Nadat vliegtuie gebou is, is hulle onmiddellik vir lugfotografie gebruik omdat hulle hoër as die lugballonne kon vlieg en ’n groter gedeelte van die aardoppervlak kon dus op elke foto verbeeld word. Daar is verskillende tipes lugfoto’s, naamlik vertikale, skuins-, hoë en lae lugfoto’s, asook etlike kombinasies van die voorgenoemdes. Die bekendste en algemeenste lugfoto’s is die amptelike vertikale lugfotoreekse wat in baie lande (insluitend Suid-Afrika) vrylik beskikbaar is en vir ’n wye verskeidenheid doeleindes aangewend is en steeds gebruik word. Lugfoto-analise het ’n hoogs gesofistikeerde wetenskaplike tegniek geword en nadat uiters hoogvlieënde, radar-verskansde vliegtuie ontwikkel is, was hulle ’n onweerstaanbare instrument vir uiters hoë-hoogte fotografie van “vyandige” grondgebied. Die foto’s vanaf hierdie sogenaamde “spioenvliegtuie” en die mees moderne, super-hoogvlieënde, onbemande vliegtuie (oftewel “drones”) het die ontwikkeling van selfs meer gekompliseerde analise-tegnieke genoodsaak om voorwerpe op die oppervlak van “vyandige” grondgebied raak te sien en te identifiseer. Gewone fotografiese beelde is tot ’n mate verdring deur die ontwikkeling van moderne, gesofistikeerde afstandswaarnemingstegnieke, maar wanneer nodig, word gewone lugfoto’s steeds gebruik. Dit is wat die CIA (die VSA se Central Investigation Agency) gebruik het in hulle soektog na Osama Bin Laden en daartoe gelei het dat hulle hom gevind en in 2012 gedood het.