ontwikkelende lande — Afrikaans

Lande (state) wat nog nie dieselfde vlakke van welvaart, industrialisasie en menslike welstand as die ontwikkelde lande (state) in Wes-Europa, Noord-Amerika, Japan, Australië en ’n aantal lande in ander streke bereik het nie. Die term dateer uit die laat-1970’s en vroeë-1980’s toe dit bloot in ’n ekonomiese sin gebruik was om die vlak van industrialisasie van ’n land te beskryf. Die per kapita bruto nasionale produk (BNP) en per kapita bruto binnelandse produk (BBP) is aanvanklik gebruik om tussen ontwikkelde (“ryk”) en ontwikkelende (“arm”) state te onderskei. Deesdae word maatstawwe van menslike welstand ook in ag geneem om ’n land se ontwikkelingsvlak te definieer. Maatstawwe soos die menslike ontwikkelingsindeks (kyk “development”) word deesdae gebruik om die ontwikkelingsvlak van ’n land te beskryf. Die Afrika-state, ’n aantal state in Asië en in Suid-Amerika is tipiese ontwikkelende lande. Hierdie lande het lae MO-indekse (MOI’s), groot getalle wanvoede burgers, hoë kindersterftekoerse, lae gemiddelde vlakke van skoling, groot aantalle ongeletterde mense, en ’n lae gemiddelde per kapita inkomste. ’n Land se ontwikkelingsvlak is ’n relatiewe konsep (kyk “development”) en Suid-Afrika is ’n gepaste voorbeeld hiervan. Wanneer Suid-Afrika met die meeste van die Afrika-state vergelyk word, sou Suid-Afrika waarskynlik as “ontwikkeld” voorkom omdat dit die grootste ekonomie in Afrika is, ’n hoër gemiddelde per kapita inkomste, geletterdheidsvlak, en lewensverwagting as die meeste Afrika-state het, terwyl dit ook ’n laer kindersterfte- en hongersnoodkoers as menige Afrika-state het. Wanneer Suid-Afrika agter met ontwikkelde lande soos die Wes-Europese state, Japan, Kanada en die Verenigde State van Amerika vergelyk word, is dit onmiddellik duidelik dat Suid-Afrika ’n ontwikkelende land is met sekere eienskappe wat aandui dat die land besig is om ’n ontwikkelde land te word (kyk “countries in transition (CITs)”).