teenbemarking — Afrikaans
’n Bestuurstrategie om die aantal besoekers by broos of sensitiewe toerismebestemmings te beperk en te beheer. Sekere toeristefasiliteite, soos Disneyland en Sun City, is geskep om robust te wees en eindelose massas besoekers te weerstaan. Maar ander bestemmings, soos kalksteengrotte, grafkelders (katakombes), soutmyne, koraalriwwe, natuurreservate, wildparke, heilige plekke en plekke van meditasie en herinnering is sensitief en/of nie bestand teen voortdurende massas besoekers nie (kyk “carrying capacity”). Natuurlik kan die publiek nooit verbied word om ’n toeristebestemming te besoek nie, want besoekers is die bestemming se lewensbloed. Maar indien die bestemming deur te veel besoekers beskadig word, moet bestuursmaatreëls getref word of die bestuur kan beskuldig word dat hulle die “gans wat die goue eiers lê, slag”. Daar is geregverdigde besorgdheid dat die dravermoë van die Kruger Nasionale Park oorskry word deur te veel dagbesoekers en ’n aantal kleiner parke wat ontwikkel is. Natuurreservate soos Yellow Stone en Yosemite in die VSA het jare gelede reeds die besoekersgetalle beperk – en een van die belangrikste oorwegings was om die verkeersknope binne die reservate te verlig! Daar is verskeie wyses om die aantal besoekers te beperk, naamlik verhoogde toegangsfooie, ’n verbod op kinders, vooruitbespreking, ’n verbod op enige voedsel en drank op die terrein, ’n verbod daarop om sonder ’n gids rond te beweeg, die toelating van ’n beperkte aantal besoekers per dag, ’n verbod op fotografie, ’n verbod op toegang tot die mees sensitiewe areas en kosbaarste artefakte, ensovoorts. Toerismebestuur is nie so maklik as wat dit soms skyn te wees nie en aangesien toerisme een van die vinnig-groeiende industrieë is, sal hierdie probleme vererger eerder as verminder.