bewaringsgebiede — Afrikaans
Natuurlike of mensgemaakte gebiede wat sekere eienskappe het wat hulle so belangrik of uniek maak dat hulle vir die nageslagte bewaar moet word. Natuurlike gebiede wat bewaar moet word, sluit ’n wye verskeidenheid berge, vleilande, kuste, woude, graslande, riviere, gebiede wat fossiele bevat, gebiede waar baie wilde diere voorkom, gebiede waar sekere diere teël of broei, ensovoorts in. Mensgemaakte gebiede wat beskermingswaardig is, sluit ’n wye verskeidenheid histories-belangrike stedelike sektore, gebiede waar vroeë nedersettings gevestig het, gebiede wat argeologiese artefakte bevat, en so meer in. Sekere bewaringswaardige gebiede wat nie in die geheel mensgemaak is nie, is belangrike slagvelde en begraafplase. Alle state het hul eie bewaringswetgewing, maar sekere gebiede op Aarde word deur internasionale wetgewing (soos die Internasionale Wet van die See) onder die beskerming van verskeie agentskappe van die Verenigde Nasies (soos UNESCO) beskerm. Toegang tot en ontwikkeling in sekere bewaringsgebiede is streng verbode, maar in andere word toegang en ontwikkeling net deur sekere regulasies beheer. Antarktika is ’n paslike voorbeeld. Die hele kontinent asook die ysplate rondom die kontinent is ’n bewaringsgebied wat deur die Verenigde Nasies volgens die regulasies van die Internasionale Antarktiese Verdrag bestuur word. Toegang word streng beheer. Geen plante of diere wat nie natuurlik in Antarktika voorkom nie, word toegelaat nie. Tog word sekere ontwikkeling onder streng regulasies toegelaat. Slegs geloofwaardige wetenskaplike navorsingstasies word toegelaat. Suid-Afrika is een van die min lande ter wêreld wat sedert 1958 ’n navorsingstasie (genaamd SANAE) in Antarktika het. Die Suid-Afrikaanse omgewingsbestuursregulasie en wetgewing is egter nie in Antarktika geldig nie. Daar geld alleenlik die regulasies van die Internasionale Antarktiese Verdrag. (Kyk “wetlands”.)