komplementering — Afrikaans

Die sukses en gewildheid van een ontwikkeling, oord, of natuurlike verskynsel (soos ’n winkel, ’n dobbeloord of ’n strand) lei tot die ontwikkeling van ander ekonomiese ondernemings in die onmiddellike omgewing van die suksesvolle aanloklikheid. Die oorspronklike aanloklikheid en die ander ontwikkelings benadeel nie mekaar se gewildheid nie, maar verhoog dit eerder. Dit is inderdaad ’n voorbeeld van sukses wat uit sukses voortspruit. In die Geografie van ekonomiese aktiwiteite is dit ’n uiters belangrike faktor. ’n Algemeen-bekende voorbeeld is inkopiesentrums. Een toonaangewende kettingwinkel vorm die anker-huurder, en ’n hele skare van ander winkels, emporia, boetieks, bestemmingswinkels, spesialis-winkels, bank-takke, ensovoorts huur ruimte in die kompleks wetende dat die anker-huurder ’n massa menses sal lok wat kliënte van die ander winkels kan word. Presies dieselfde proses vind in die toerismebedryf plaas. Een suksesvolle toerisme-aanloklikheid lei tot die ontwikkeling van ander toerismefasiliteite in sy nabye omgewing en nóg die oorspronklike aanloklikheid nóg die ander fasiliteite doen enige afbreuk aan mekaar se sukses, maar dra daartoe by (komplementeer dit). Gewoonlik is daar een aanloklikheid in die gebied, en die sukses daarvan bied ’n geleentheid aan ander toeristefasilitiete om in die nabye omgewing te ontstaan. Namate meer fasiliteite geskep word, neem die besoekersgetalle aan al die fasiliteite – insluitend die oorspronklike “trekpleister” – toe. Die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein is ’n paslike voorbeeld. Die gewildheid en algemene bekendheid van die Sterkfonteingrot en die Mev Ples fossiel-versameling het dekades lank baie besoekers wat in argeologie en paleontologie geïnteresseerd is, gelok. Daar is egter ewe belangrike grotte en paleontologiese terreine in die onmiddellike omgewing en die hele gebied wat oor etlike vierkante kilometers strek, is as belangrik genoeg geag om as ’n wêrelderfenisterrein verklaar te word. Daar het dadelik ander toeriste-aanloklikhede binne die gebied ontstaan, naamlik die Maropeng-museum van ewolusie, die Savanna-wildreservaat, die Renoster- en Leeu-natuurreservaat, die ou Kromdraai-goudmyn, die Wieg Natuurreservaat, die Kultuur-nedersetting, staproetes, herberge, gesondheidsoorde, landelike wegbreekoorde, kuns- en handwerkmarkte, asook die toerisvriendelike ontwikkelings by die ander belangrike grotte naamlik Zwartkrans en Kromdraai, en ’n hele reeks ander besienswaardighede. Al hierdie ondernemings trek voordeel uit die nabyheid van ander toeriste-bestemmings en hulle dra almal by tot die groot getalle besoekers wat tans die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein besoek. Hierdie terrein verteenwoordig ’n suksesvolle toeriste-bestemming met ’n hele verskeidenheid komplementêre ontwikkelings.