akkulturasie — Afrikaans

Dit vind plaas wanneer een kultuurgroep vrywillig sekere aspekte of ’n spesifieke element uit ’n ander kultuur aanneem. Sport is vir besonder baie akkulturasie verantwoordelik. Die feit dat sokker die gewildste sport in die meeste Afrika-lande geword het, is ’n uitstekende voorbeeld van akkulturasie. Selfs Afrikane wat die meeste van hulle eie kulturele besit behou het, het sokker as hulle gunsteling sport aangeneem. Krygssport, soos karate, Kung Fu en tai chi ch’uan uit Asië, rituele skyngevegte met knuppels of stokke (molamo) uit dele van Afrika, en lansgevegte uit Wes-Europa is deesdae gewilde vorme van sport in baie dele van die wêreld. Dit getuig van die akkulturerende invloed van sport. Taal is ’n integrale komponent van enige kultuur. Mense vervang nie maklik hulle eie taal met ’n ander nie, maar hulle neem veral Engels of Frans as tweede of derde taal aan omdat dit die tale van die internasionale ekonomie en wetenskap is. Kersfees is lank reeds vir Christene in Europa en die Amerikas ’n belangrike kulturele gebeurtenis, maar deesdae word dit ook deur nie-Christene gevier, hoewel nie op dieselfde wyse nie. Die Amerikaanse kultuur is besonder aantreklik vir miljoene mense oral in die wêreld. Halloween is deel van die Amerikaanse kultuur en het absoluut niks met die Suid-Afrikaanse kulture te make nie. Tog vier sommige jong mense van alle rassegroepe in Suid-Afrika deesdae Halloween. Denimbroeke was deel van die Amerikaanse kultuur, maar is nou deur baie groepe byna oral in die wêreld as normale kleredrag aangeneem. Globaal gesien, neem akkulturasie teen ’n versnellende pas toe. Dit is die resultaat van verhoogde interaksie tussen mense uit verskillende kulture. Namate globalisasie (kyk “globalisation”) ’n wêreld-dorp skep, versnel akkulturasie. Daar is selfs besorgdheid dat sekere inheemse kulture dwarsoor die wêreld kan verdwyn as gevolg van “Amerikanisering”. Akkulturasie moet nie met enkulturasie verwar word nie. Laasgenoemde is nie ’n vrywillige proses nie. Tydens die imperiale tydperk is mense van die gekoloniseerde lande gedwing om die tale van die koloniale moondhede aan te neem. Ná die afloop van die Anglo-Boereoorlog (of Tweede Vryheidsoorlog, 1889 – 1902) in Suid-Afrika is Afrikaans uit die skole verban en Engels was die enigste onderrigtaal. Tydens die apartheidsera in Suid-Afrika was Afrikaans en Engels die enigste toegelate onderrigtale en die gebruik van die Afrika-tale in onderrig is onderdruk. Gedurende die Nazi-bewind van 1933 tot 1945 was sekere boeke, toneelstukke en musiek in Duitsland verbode. Presies dieselfde was van toepassing in die eertydse USSR en Suid-Afrika in die 1970’s en 1980’s. ’n Magdom ander voorbeelde van akkulturasie en enkulturasie kan verstrek word en jy kan waarskynlik ’n hele aantal uit jou eie lewe opnoem. Dink maar aan die internet en die sosiale netwerke as akkulturasiefaktore in jou eie lewe en die lewens van ander mense wat jy ken. (Kyk “demonstration effect”.)