aanspreeklikheid — Afrikaans

Om voor ’n gesaghebbende liggaam of persoon verantwoordbaar te wees vir jou dade en besluite. In ’n demokratiese staat kies die stemgeregtigdes ’n politieke party of ’n persoon om die staat te bestuur, met ander woorde, om te regeer. Die verantwoordelikheid om die staat te bestuur, word dus aan die verkose leier of leiers toevertrou. Indien die staat swak bestuur word, moet die leier of leiers aan die stemgeregtigdes verantwoording doen. Indien die stemgeregtigdes nie tevrede is met die leiers of leier se prestasie nie, kan hulle vir ’n ander party of persoon stem tydens die volgende verkiesing. In die omgewingskonteks het elke lewende persoon die verantwoordelikheid om die natuurlike en die mensgemaakte omgewing te bewaar en dit nie vir eie gewin uit te buit nie. Ons is aanspreeklik teenoor die geslagte wat ná ons kom. Die omgewingsbelange van die toekomstige geslagte word beskerm deur wetgewing en regeringsprosedures om die wette uit te voer. Dit kom inderwaarheid neer op die regering se bereidwilligheid en vermoë om die wette af te dwing. In Suid-Afrika is die beskerming van die omgewing verskans in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet nommer 108 van 1996, die Omgewingsbewaringswet nommer 73 van 1989, die Nasionale Omgewingsbestuurswet nommer 108 van 1998 (wat algemeen as NEMA bekendstaan), die Nasionale Omgewingsbestuur Wysigingswet nommer 8 van 2004, en ’n hele reeks verwante wette wat oor spesifieke aspekte van die omgewing handel.