kwesbaarheid — Afrikaans

Iets tasbaars of ontasbaars wat broos en maklik beskadigbaar is. In geografie word die term in baie verskillende kontekste gebruik. ’n Politieke groepering of ooreenkoms kan kwesbaar wees (bv Palestina en die EU); die roete vir noodvoedselvoorrade kan kwesbaar wees (bv Suid-Soedan en Somalië); ’n verhongerde bevolking is kwesbaar (bv Darfur en Somalië); die stalaktiete in enige kalksteengrot is uiters kwesbaar as gevolg van toeriste wat CO2 uitasem en hitte uitstraal; ’n hele ekosisteem kan kwesbaar wees (bv die hele Niger-delta wat deur olie-ontginning bedreig word); ’n stad of ’n land wat op die vloedvlakte van ’n groot rivier geleë is (bv New Orleans en feitlik die hele Bangladesh); ’n hele stad wat oor ’n verskuiwingslyn in die aardkors geleë is (bv San Fransisco en Los Angeles); en elke meter landgebied op die hele Afrika-kontinent is kwesbaar vir erosie en onomkeerbare degradasie. Inderwaarheid is die hele Aarde en alles op haar kwesbaar. Ons is geneig om natuurlike asook mensgemaakte omgewings as sterk en weerstandbiedend te beskou, maar wanneer ons besef hoe kwesbaar hulle in werklikheid is, sal ons hulle dalk met meer respek en sorg bejeën.