topologie — Afrikaans

’n Beskrywing van die ligging van ’n plek of ’n verskynsel sonder om die ware afstand, oriëntasie of reglynigheid in ag te neem. Dit is ’n oeroue tegniek want mense het nog altyd topologiese kaarte geteken om te beskryf waar sekere plase, geboue, riviere, brûe, en heilige plekke geleë is of selfs waar ’n groot skat begrawe is! ’n Generaal in bevel van ’n taakmag sal dikwels met ’n stok ’n kaart in die sand teken om die gevegstrategie aan sy manskappe te verduidelik. Jy sal ’n vinnige sketskaart teken om aan jou vriend te verduidelik waar jou huis geleë is. Sowel die generaal as jy het in werklikheid topologiese kaarte geteken. In die 1700’s is topologie as ’n formele wetenskaplike tegniek erken waarin daar sekere reëls, fundamentele kenmerke en selfs wiskundige verhoudings betrokke is. ’n Topologiese kaart is nie volgens skaal geteken nie en nog die vorms, nog die rigtings en die afstande is korrek, maar ’n mens sal die plek wat jy soek, kan vind. Sekere, opvallende landskapstrekke figureer duidelik op ’n topologiese kaart, hoewel hulle nie noodwendig op presies die regte lokaliteite geplaas is nie en die afstande tussen hulle nie noodwendig skaalgewys korrek sal wees nie. Die militêre dienste en die toerismebedryf gebruik voortdurend topologiese kaarte. By ’n toeristestalletjie kan mens maklik ’n voubiljet of ’n brosjure van die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein bekom en daarin sal ’n topologiese kaart wees wat jou na die terrein en die verskillende besienswaardighede in die terrein kan lei. In GIS is topologie die ruimtelike verhouding tussen aangrensende, gebeurlike of gekopplde kenmerke. Die verhouding tussen kenmerke word in ’n stel verwante tabelle aangeteken. Topologie verseker dat die relatiewe liggings van kenmerke dieselfde bly as die datalae verwring word, byvoorbeeld deur’n projeksietipe toe te pas.