topografiese kaart — Afrikaans

’n Kaart wat ’n gedeelte van die aaroppervlak omvattend en akkuraat beskryf. Dit kan as ’n algemene beskrywende kaart beskryf word aangesien dit die ligging van ’n wye verskeidenheid natuurlike asook mensgemaakte verskynsels op die aardoppervlak voorstel. Topografiese kaarte toon berge, kuslyne, strande, sandduine, riviere, stroomvalleie, heuwels, vlaktes, vleilande, plantegroei, rotsdagsome, paaie, spoorlyne, treinstasies, lughawens, landingstroke, polisiekantore, herberge, kerke, skole, sportvelde, dorpe, stede, voetpaaie, monumente, en enige ander verskynsels wat op die kaart ingepas kan word sonder om ’n warboel te skep. Die feit dat hierdie kaarte hoogtedata (hoogte bo seevlak) deur middel van kontoerlyne en kolhoogtes aandui, dra baie by tot hulle waarde. Die akkuraatheid van hierdie kaarte is verstommend hoog omdat hulle gebaseer is op presiese landmeting hoewel lugfoto’s en satellietbeelde ook gebruik word om akkuraatheid te verseker. Indien ons wil weet wat in ’n gebied voorkom en waar binne die gebied dit geleë is, het ons ’n goeie topografiese kaart nodig. Topografiese kaarte kan op enige skaal geteken word, maar hoe groter die skaal, hoe meer besonderhede en inligting kan aangedui word. Die meeste lande in die wêreld publiseer amptelike topografiese kaartreekse op algemeen gebruikte skale soos 1: 50 000 en 1: 125 000. Al hierdie kaarte is uiters bruikbaar, hoewel die topokadastrale kaartreekse nóg meer bruikbaar is (kyk “topocadestral map”).