ruimtelike data — Afrikaans

Die besonderhede wat die ligging of liggings van ’n toestand, verskynsel of objek wat ondersoek word, beskryf. Dit beskryf waar ’n sekere ding voorkom en watter goed vind waar plaas. ’n Kaart kan geteken word om aan te dui waar die onderwerp wat ondersoek word, voorkom. Selfs ’n verskynsel wat slegs op een plek of lokaliteit voorkom se intensiteit kan van plek tot plek (punt tot punt) binne die area verskil, gevolglik beskryf dit ’n ruimtelike verspreidingspatroon binne die area van voorkoms. Geograwe vra altyd “waar?” (kyk “spatial distribution” en “spatial pattern”), en die antwoord op die vraag is ruimtelike data oor die objek wat bestudeer word. Ruimtelike data is karteerbaar en word dikwels geografiese data genoem, wat nie onregverdigbaar is nie. Geograwe teken kaarte van die goed wat hulle bestudeer. Geografiese data is karteerbaar. Indien die veranderlikes (besonderhede) van ’n ondersoek nie karteerbaar is nie, is dit waarskynlik nie ’n geografiese ondersoek nie. Daar is verskillende grotte in die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein en sommige van hulle is redelike ver van mekaar geleë. ’n Besoeker aan die terrein sal totaal velore wees en nie weet waar om die verskillende grotte te vind indien hy/sy nie ’n kaart het wat die ruimtelike data soos die liggings (lokaliteite) van die verskillende grotte aandui nie. Selfs in ’n relatief klein area soos dié wat deur ’n paar strate in die hartjie van Pretoria gevorm word, moet ’n mens ruimtelike data hê om te weet watter straathoeke en stegies om vir persoonlike veiligheid te vermy. Ruimtelike data en ruimtelike verspreiding is twee konsepte wat nie afsonderlik beskou moet word nie want die twee kan nooit van mekaar losgemaak word nie (kyk “spatial distribution”).