sosio-kulturele impakte — Afrikaans

Mense leef in sosiale groepe wat volgens hulle eie gebruike en tradisies hiërargies georden is. Hulle tradisies, rituele, godsdienspraktyke, sosiale interaksies, ensomeer, weerspieël hulle waardesisteem en lewensuitkyk. Indien politieke onstabiliteit in oorlog uitloop, kan ’n hele gemeenskap uiteengeruk word en hulle kan gedwing wees om hul tuisgebied en al die plekke wat vir hulle betekenis het of heilig is, te verlaat en ’n nuwe taal aan te leer. Hulle kan selfs oorspoel word deur ’n massa migrante of vlugtelinge wat van elders kom en in hulle gebied kom vestig (kyk “refugee” en “host society”). Dit het ’n hewige impak op die sosio-kulturele lewe van die oorspronklike gemeenskap. Hulle word blootgestel aan vreemde gebruike, godsdienste, sosiale en kulturele gebruike en uiteindelik kan akkulturasie of selfs enkulturasie plaasvind (kyk “acculturation”). Die uiteinde van hierdie impakte is ondertrouing met die mense wat nou beswaarlik nog as vreemdelinge beskryf kan word, en die verlies van die oorspronklike gemeenskap se gebruike en identiteit. Die dominansie van sekere kulture kan ander kulture óf vreedsaam óf gedwonge vernietig. Wanneer mense só aangetrokke is tot ’n ander lewenstyl kan hulle kies om hulle eie kultuur te laat vaar en die ander een aan te neem. Die Amerikaanse samelewing is ’n interessante voorbeeld. Toe die Afrika-Amerikaners aanvanklik as slawe na Noord-Amerika geneem is, is hulle weggeskeur uit hulle eie sosio-kulturele milieu, gebruike en identiteit, en gedwing om die sosio-kulturele gebruike van die slawe-eienaars te aanvaar. Die Afrika-slawe was ’n totaal ontwrigte groep mense. Oor ’n tydperk van meer as twee honderd jaar en menige traumatiese gebeure, het die verskillende mense van die VSA egter tot een nasie versmelt wat – in die breë gesien – dieselfde sosio-kulturele tradisies deel. Al die verskillende mense en nasies in die wêreld het al een of ander tyd sosio-kulturele impakte ervaar, en hulle het mekaar oor en weer beïnvloed. Tog verskil die Europeërs, Chinese, Indiërs, Braziliane, ensovoorts, steeds heeltemal van mekaar. Die sosio-kulturele impak van die internet het reeds ’n beduidende impak gehad en dit sal interessant wees om waar te neem wat die toekomstige invloed van die internet gaan wees.