gemeenskapsdienste, sosiale dienste — Afrikaans
Die amptelike voorsiening in die tasbare en ontasbare goedere om die mense in ’n gemeenskap se behoeftes te bevredig. Mense het behoeftes en begeertes. Die begeertes is dít wat mense graag wil hê, maar hulle oorlewing is nie daarvan afhanklik nie. Daarenteen is behoeftes dít wat vir mense se oorlewing bevredig móét word. Selfs behoeftes kan in ’n rangorde geplaas word, met basiese behoeftes (soos kos en skuiling) aan die een kant en hoër-vlak behoeftes (soos gevorderde onderwys) aan die ander uiteinde. In enige gemeenskap, is daar ’n gemeenskaplike verantwoordelikheid om in die basiese behoeftes van almal te voorsien, selfs daardie gene wat nie in staat is om daarvoor te betaal nie. Hierdie sosiale verantwoordelikheid word opgedra aan die owerhede, naamlik die regering of een of ander outoriteit, om uit te voer – dit wil sê, om die dienste te verskaf en toe te sien dat die behoeftiges gesondheidsorg, basiese skoling, veilige skuilings, genoeg voedsel, skoon water, en al die ander basiese dienste wat vir oorlewing of ’n aanvaarbare lewe nodig is, ontvang. Diegene wat dit kan bekostig, betaal belastings sodat die dienste voorsien kan word aan diegene wat nie daarvoor kan betaal nie. Indien die basiese behoeftes van die armes in ’n gemeenskap nie bevredig word nie, kan dit tot sosiale onrus en onstabiliteit lei. Voordat mense in dorpe en stede begin saamleef het, moes elke familiegroep in hulle eie behoeftes voorsien. Nadat familiegroepe vergroot het en sosiale eenhede en gemeenskappe begin vorm het, het ’n gemeenskapsin ontstaan en mense het mekaar begin help. Die konsepte van “sosiale behorendheid” en gemeensaamheid is gebore. Deesdae woon meer as 50% van die wêreldbevolking in stede en dienstevoorsiening is een van die belangrikste oorwegings in stedelike beplanning en ontwikkeling. Ruimtelike analise word gedoen om die optimale lokaliteite vir skole, hospitale, markte, ensomeer te bepaal.