peiling — Afrikaans

Die rigting van ’n plek, verwysingspunt of objek soos gemeet met ’n kompas vanaf die plek waar die waarnemer is. Peiling verskil van asimut daarin dat peiling nooit meer as 90° kan wees nie en vanaf noord óf suid gemeet kan word. Wanneer die waarnemer noordwaarts moet kyk om’n objek wat ten ooste van die noord-suidlyn lê, te sien en meet dat die siglyn ’n hoek van 15° met die noord-suidlyn vorm, is die objek by N 15° O. Indien die waarnemer suidwaarts en dan weswaarts moet kyk om die objek te sien en die siglyn vorm ’n hoek van 35° met die noord-suidlyn, is die peiling van die objek (dit wil sê die rigting wat jy moet inslaan om die plek te vind) S 35° W. Om sake te kompliseer, moet die waarnemer onthou dat ware noord en magnetiese noord nie op dieselfde plek geleë is nie. Peiling kan vanaf óf die ware (geografiese) noord-suidlyn óf die magnetiese noord-suidlyn geneem word. Indien die peiling met behulp van ’n kompas gedoen is, is die magnetiese noord-suidlyn gebruik en dan moet ’n korreksie aangebring word om die ware ligging van die objek vas te stel. Om dít te kan doen, moet mens weet hoeveel die magnetiese deklinasie is (kyk “magnetic declination”). Twintig jaar gelede het mens met ’n kompas en basiese navigasievaardighede in die wildernis ingegaan; deesdae gryp mens ’n GPS en daar gaan jy – tot die GPS se battery pap word!