omvangsberaming, omvangsbepaling — Afrikaans

Die proses van impakidentifikasie. Hierdie proses volg op die siftingsproses (kyk “screening”) en dit behels die identifisering van die impakte wat in die impakbepaling ingesluit en ondersoek moet word en watter impakte nie verdere ondersoek benodig nie. ’n Voorgestelde ontwikkelingsprojek as ’n geheel kan potensieel ’n beduidende impak op die omgewing inhou, maar al die onderskeie aspekte en aksies in die projek hou moontlik nie almal ewe ernstige bedreigings vir omgewing in nie. Al die potensieel ernstige impakte moet deeglik ondersoek word in die impakbepalingsfase, maar dit sou ’n verkwisting van geld en tyd wees om die relatief onskadelike en onbeduidende impakte verder te ondersoek. Die doel van omvangbepaling is om vas te stel watter impakte ondersoek moet word en watter nie ondersoek hoef te word nie. Omvangbepaling behoort die kernaspekte waarop die impakbepaling moet konsentreer, te identifiseer. Let daarop dat alle moontlike impakte in die omvangsbepalingsproses oorweeg moet word, maar die minder beduidende en nietige impakte hoef nie verder ondersoek te word nie. Daar is verskeie metodes wat gebruik kan word om die mees beduidende impakte te identifiseer. Die besluite van die omvangbepalingsproses word gedokumenteer en hierdie dokument vorm dan ’n uiters belangrike dokument (“instrument’), naamlik die terme van verwysing (TvV of “Terms of References [ToR”]), vir die omgewingsimpakbepalingsfase. Die TvV is die “bloudruk” vir die impakbepalingsfase. ’n Swak of onvolledige TvV kan uitloop op ’n onvoldoende ondersoek van sleutelaspekte wat uiteindelik tot ’n ernstige, duur of selfs onomkeerbare skade aan die omgewing kan lei. Baie omgewingskonsultante en -praktisyns beskou die omvangbepaling as die belangrikste fase van die hele geïntegreerde omgewingsbestuursprosedure. Omvangbepaling is ’n uiters komplekse proses, maar daar is etlike riglyndokumente ontwikkel oor hoe dit kan en behoort uitgevoer te word. Dit is noodsaaklik dat alle belanghebbendes betrek moet word en dat die proses goed beplan en goed bestuur moet word.