resolusie — Afrikaans

Die vermoë van ’n film en/of ’n lens om ruimtelike besonderhede waar te neem en op beeld vas te lê, dit wil sê, te dokumenteer. Om fyn besonderhede op ’n fotografiese beeld vas te lê, moet die resolusievlak so hoog as moontlik wees. Uit ’n fotografiese beeld met ’n growwe grein kan min besonderhede onderskei word. So ’n beeld is van min waarde. Vergelyk ’n greinerige (dit wil sê, ’n fotografiese beeld wat bestaan uit kolletjies ver van mekaar gespasieer is), swak gefokusde foto van ’n pragtige bruid, met ’n skerp, gefokusde foto van dieselfde bruid. Op die eersgenoemde kan mens skaars enige besonderhede van haar trourok uitmaak en selfs haar gesig is effens vaag. Maar op ’n hoë-resolusie foto kan elke pêrel, valletjie, voutjie en besonderheid van haar rok en gesig duidelik onderskei word. Die resolusie van ’n fotografiese beeld is omgekeerd proporsioneel tot die greingrootte, dit wil sê, hoe hoër die aantal kolletjies op die beeld (dit wil sê, die resolusievlak), hoe hoër is die resolusie van die vasgelegde beeld. Vir militêre doeleindes is hoë resolusiebeelde essensieel. Dit is van min waarde om te sien dat daar een of ander tipe konstruksie in ’n vyandige staat aan die gang is. Indien die beelde egter onweerlegbaar toon dat daar ’n missiellanseer-aanleg gebou word, mag die buurstate heeltemal anders reageer! Die wêreldwye militêre industrie is altyd betrokke in die ontwikkeling van nuwe afstandswaarnemingstegnologie (kyk “remote sensing”) en tegnologie om meer gedailleerde afstandswaarneming moontlik te maak. Wetenskaplikes wat sulke navorsing doen, doen dit gewoonlik vir, of in opdrag van, die militêre magte. Mettertyd vind hierdie tegnologie sy weg tot die openbare domein en raak dit beskikbaar vir andere om te gebruik.