hernubare energie — Afrikaans
Energie wat verkry word uit ’n bron wat voortdurend beskikbaar is of oor ’n kort periode soos ’n paar uur, ’n dag of ’n week selfaanvullend is. Die bron van die hernubare energie kan dus nooit uitgeput of “opgebruik” word nie; gevolglik kan hernubare energie nooit uitgeput raak nie. Sonenergie (sonlig) is elke dag wat die son skyn, beskikbaar en dit kan gebruik word om water te verwarm, batterye te laai wat gloeilampe kan laat skyn, en selfs kos te kook in ’n spesiale sonstoof (selfs ’n goedkoop tuisgemaakte weergawe van ’n sonstoof). Sonenergie word deesdae oral in die wêreld vir ’n wye reeks aanwendings gebruik, byvoorbeeld in sakrekenaars, selfoontorings, warmwatertoestelle, sonstowe, huisbeligting, ’n verskeidenheid aanlegte en toestelle en selfs ganse geboue kan voorsien word van elektrisiteit wat deur soninstallasies opgewek word. Die beperkings vir die gebruik van sonenergie is geografiese ligging (see “location”), soos die poolstreke wat vir ’n paar maande van die jaar bitter min sonenergie ontvang, bewolkte en hoë-reënvalgebiede, die hoë kapitaaluitleg om die sonenergie-installasie te koop en te installeer (hierdie toerusting en sonpanele is besonder duur), ensovoorts. Tog word sonenergie selfs in Europese lande wat baie minder sonskyn as Suid-Afrika ontvang, algemeen gebruik en alle huise en geboue moet sonpanele installeer. Inderwaarheid ontvang die hele kontinent van Afrika soveel sonlig dat elektrisiteit wat deur sonlig opgewek word, aan elke mens in Afrika verskaf kan word, maar die koste van die sonpanele en die batterye is ver bo die finansiële vermoë van die meeste Afrikane. Ander vorme van hernubare energie is vallende water wat hidro-elektrisekrag kan opwek, gety-energie (in die oseane) en windenergie. Hidro-elektrisiteit word op ’n paar plekke in Afrika opgewek, naamlik by die Cahora Bassa-dam in Mosambiek, die Katse-dam in Lesotho, die Kariba-dam in Zimbabwe, die Gariep-dam in Suid-Afrika, die Ruacana-waterval op die grens tussen Namibië en Angola, die Owen-waterval in Uganda, die Aswan Hoë-dam in Egipte, en sommige andere. In wêrelddele waar water meer volop as in Afrika is, is hidro-elektrisiteit die vernaamste bron van energie. Windenergie is wat deur ’n gewone windpomp gebruik word, en daar is derduisende windpompe in Afrika. Windturbines is uitstekende kragopwekkers en hulle wissel in grootte van huis-modelle kleiner as ’n TV-satellietskottel wat ’n motorbattery kan laai, tot “windplase” wat so baie krag lewer dat dit tot die algemene elektrisiteitsnetwerk van die land kan bydra. In Suid-Afrika is daar ’n werkende windplaas naby Darling in die Wes-Kaap en ’n tweede een is tans in aanbou naby Mosselbaai. Die grootste nadele van windturbines is die beperkte kapasiteit van die batterye wat die elektrisiteit moet stoor, en die ondraaglike lawaai wat die turbines self maak. ’n Windturbine sal nie baie effektief wees in Pretoria nie omdat Pretoria ’n uitsonderlike lae windfrekwensie het, maar in streke soos die Suid-Kaap, die Oos-Kaap en die Vrystaat kan windturbines hoogs suksesvol wees. Kernkrag word normaalweg as ’n hernubare energiebron bestempel (kyk “nuclear energy”). Dit is strenggesproke nie korrek nie aangesien die grondstowwe wat gebruik word om kernkrag op te wek teoreties ook uitputbaar is, maar sulke klein hoeveelhede uraan en/of plutonium is nodig om sóveel energie op te wek, dat ons nooit die hulpbron sou kon uitput nie. En die afvalprodukte bly vir soveel duisende jare radio-aktief dat ons heel moontlik sal kan uitvind hoe om dit vir die opwekking van elektrisiteit te gebruik, en sodoende die lewensduur van die hulpbron te verleng. Daar is egter etlike negatiewe aspekte en ernstige gevare verbonde aan kernkrag-opwekking. Eerstens is daar die hoë koste verbonde aan die oprigting van kern-kragaanlegte, die tweede is die gevaar van ’n “ongeluk” wat daartoe kan lei dat radio-aktiwiteit in die omgewing kan “uitlek”, soos by die Three Mile Island-installasie in die VSA, die Chernobyl-installasie in Rusland en die Fukushima-installasie in Japan (kyk “hazardous waste” en “nuclear energy”). As gevolg van die gevare inherent aan kern-installasies en die hantering van radio-aktiewe afval sal kernkrag seker altyd ’n kontroversiële energiebron wees. (Let daarop dat daar etlike omgewingsvriendelike alternatiewe vir fossielbrandstofenergie [kyk “fossil fuels”] is, maar vanweë sekere beperkings en hoë koste is ons steeds afhanklik van besoedelende [“vuil”] – maar relatief goedkoop – fossielbrandstowwe.)