bekombaarheid, bereikbaarheid, toeganklikheid — Afrikaans

Die gemak waarmee enige iets of plek bereik, gevind of betree kan word. ’n Hele aantal faktore kan ’n sekere plek meer toeganklik of minder toeganklik maak. Dit sluit afstand, hoogte bo seevlak, politieke oorwegings, sekuriteitsmaatreëls en vele meer in. New York is baie meer toeganklik as die maan omdat ’n tog per skip, motorvoertuig, trein of vliegtuig na New York meer geredelik beskikbaar en meer bekostigbaar as ’n ruimtevaart na die maan is. Die kruin van Tafelberg in Kaapstad is meer bereikbaar as die hoogste piek van Mount Everest aangesien die atmosfeer by Everest te min suurstof bevat om menslike lewe te onderhou. Enigeen kan tot op die kruin van Tafelberg stap – al is dit ’n stywe stap! – maar om Everest se piek te bereik, moet ’n mens gebruik maak van “gebottelde” suurstof in suurstofsilinders wat teen die berg uitgedra moet word (kyk “adventure tourism” en “responsible tourism”). Mense wat van rolstoele afhanklik is, mag dit onmoontlik vind om in sekere geboue in te gaan, en daardie geboue is dan ontoeganklik vir daardie mense. Om politieke redes is daar geen maklike beweging tussen Noord- en Suid-Korea nie hoewel dié twee state direk langs mekaar geleë is. Gevolglik is Noord-Korea hoogs ontoeganglik vir Suid-Koreane. As gevolg van sekuriteitsredes is dit baie moeilik of onmoontlik om toegang tot die Uniegebou in Pretoria (die setel van die regering) te kry, maar alle lede van die algemene publiek kan die geboue op Unisa se Pretoria-kampus betree. Toeganklikheid tot inligting is nog ’n voorbeeld. Dit is maklik om inligting oor die sokkerwedstryde wat in ’n spesifieke week in Suid-Afrika gespeel word, te bekom, maar inligting oor die VSA se kernarsenaal is uiters moeilik of glad nie bekombaar nie.