kaartprojeksie — Afrikaans

’n Metode waardeur die geboë oppervlak van die Aarde op ’n plat oppervlak soos ’n vel papier voorgestel kan word. So ’n voorstelling noem ons ’n kaart. Die belangrikste eienskap van ’n kaart is dat elke punt op die kaart met net een spesifieke punt in die werklikheid ooreenstem. Kaartprojeksie sluit die konstruksie van ’n ruitnet van twee stelle lyne wat mekaar kruis, in. Hierdie lyne stel die netwerk van breedtelyne (parallels) en die lengtelyne (meridiane) wat ons in ons verbeelding op die Aardoppervlak geteken het, voor. ’n Ander manier om te beskryf wat kaartprojeksie is, is dat dit ’n metode is om die ruitnet vanaf die geboë aardoppervlak op die plat oppervlak van ’n kaart oor te dra. Die proses waardeur ’n geboë oppervlak op ’n plat vlak voorgestel word, vereis noodwendig dat óf die vorm van objekte óf die rigting tussen hulle verwring word. Dit beteken dat wanneer ’n redelik groot deel van die aardoppervlak gekarteer word, daar ’n keuse gemaak moet word: moet die vorm van objekte (soos kontinente of waterliggame) óf die rigting tussen hulle getrou voorgestel word. Dit is onmoontlik om albei getrou voor te stel, en die doel van die kaart sal bepaal watter keuse uitgeoefen word, met ander woorde watter projeksie gebruik sal word. Daar is talle tipes projeksies wat gebruik kan word, en die kaartmaker moet besluit watter projeksie sal die beste produk aan die kaartgebruiker bied. Daar is ’n derde benadering tot die probleem, naamlik dat sowel die vorm van voorwerpe as die rigting tussen hulle tot ’n mate verwring word, maar die finale produk sal aan die doel van die kaart voldoen. Die bekendste voorbeeld van so ’n “projeksie van gerieflikheid” is die Robinson-projeksie wat deur die National Geographic Society gebruik word. Alle wêreldkaarte wat in die National Geographic Magazine gebruik word, is op die Robinson-projeksie gebaseer. Dit verwring sowel vorm as rigting, maar tot so ’n geringe mate dat die National Geographic Society hierdie projeksie gekies het en dit deurgaans gebruik.