plaaslike gemeenskap — Afrikaans

’n Groep mense wat een of ander gemene belang deel en ’n sin van behorendheid aan mekaar en/of tot ’n spesifieke plek het. In ’n geografiese sin is ’n spesifieke, gedeelde ruimte of plek ’n voorvereiste vir die identifisering van ’n plaaslike gemeenskap. Groepe mense wat ’n gemeenskaplike saak dien, soos die reg om ’n vuurwapen te besit of die mense wat met MIV leef, vorm belangegroepe, nie gemeenskappe nie; daar is geen ruimtelike band tussen hulle nie. ’n Plaaslike gemeenskap deel egter een baie spesiale attribuut, naamlik ’n verbondenheid aan ’n spesifieke plek, en – vir hulle – het daardie plek ’n spesiale pleksin. Hierdie mense leef, of werk of kom vanaf ’n spesifieke, definieerbare ruimte of plek wat hulle aan mekaar “bind” in ’n hegte of minder hegte gemeenskap. Die kinders van hierdie mense gaan dikwels saam skool, die hele gemeenskap koop by die dieselfde winkels, besoek mekaar aan huis, behoort aan dieselfde kerke, weet baie van mekaar en ondersteun mekaar in moeilike tye. Mense wat saam in so ’n gemeenskap grootgeword het, kan wegtrek, maar hulle behou nogtans ’n samehorigheidsgevoel vir die plek waar hulle opgegroei het. Dit geld vir die ryk en vir die arm, vir ie welgesteldes en die behoeftiges. Die mense en die plek waar hulle leef, vorm ’n ingewikkelde geheel wat nie verbreek kan word nie, al trek die mense weg en al word die plek verwoes. In Suid-Afrika is daar aangrypende voorbeelde van plaaslike gemeenskappe wat deur Apartheidspolitiek uitmekaar geskeur is en die plekke self totaal afgebreek is. Distrik Ses in Kaapstad, Sophia Town en Triomf in Johannesburg en Lady Selbourne in Pretoria is voorbeelde daarvan. Tans dien semi-formele en informele nedersettings of (townships) soos Diepsloot noord van Johannesburg, Kruispad en Gugulethu naby Kaapstad, Mandela City naby Pretoria, en vele meer as voorbeelde. Plaaslike gemeenskappe is hoegenaamd nie tot stedelike gebiede beperk nie en daar is tallose landelike gemeenskappe wat dieselfde plekgebondenheid besit. Die gemeenskappe van Kwadlangezwa, Nkandla, Mier, Elim en Pniel dien as voorbeelde. Die verskynsel van hegte, stabiele, plaaslike gebondenheid aan plekke en mense word dwarsdeur die wêreld gevind. In die VSA is “the hoods” en “the Projects” tipiese voorbeelde van plaaslike gemeenskappe in sub-ekonomiese gebiede, terwyl Staten Island en Long Island welgestelde plaaslike gemeenskappe verteenwoordig. In die krotbuurtes en blikkiesdorpe van Kolkota (voorheen Culcutta) en Mumbai (voorheen Bombaai) vorm die mense sterk, eksklusiewe plaaslike gemeenskappe en die inwoners van die favelas (krotbuurtes) in Rio de Janeiro verduur soms geen vreemdelinge in hulle lewensruimte nie.