gasheergemeenskap — Afrikaans

’n Versameling van interaktiewe menslike of nie-menslike individue wat ’n spesifieke gebied bewoon en skielik oorstroom word deur ’n groot aantal individue vanuit ’n buurgemeenskap. Die instromende individue het gevlug, of was verdryf uit hulle tuisgebied, of het op een of ander wyse in hierdie veiliger gebied beland. In ’n nie-menslike, natuurlike sisteem (kyk “ecosystems”) sal die inkomende individue waarskynlik uitsterf of verslind word. Die teenoorgestelde mag ook gebeur, naamlik dat die nuwelinge die endemiese gemeenskap uitwis en ’n dominante spesie in die “nuwe” ekosisteem word. Indien die nuwelinge nie kan aanpas by die toestande en ander spesies van die “nuwe” ekosisteem nie, sal hulle wegbeweeg of uitsterf. In menslike gemeenskappe kan die “vreemdelinge” vlugtelinge sonder enige identifikasiedokumente, geld of besittings wees en hulle bande met die gasheergemeenskap is nie noodwendig sterk nie (kyk “refugee”). Die gasheergemeenskap kan vyandig teenoor die vlugtelinge wees en hulle doodmaak of verdryf. Dit gebeur egter nie dikwels nie omdat mense nie sal vlug na ’n plek waar hulle weet hulle onwelkom sal wees en gedood sal word nie. Daar is ook internasionale organisasies soos die Internasionale Rooi Kruis, Médecins Sans Frontièrs, Oxfam en die Verenigde Nasies se Hoë Kommissie vir Vlugtelinge (UNHCR) wat die vlugtelinge asook die gasheergemeenskap kan help. Dit kan egter nie ontken word dat die mense van ’n gasheergemeenskap met ’n probleem sit wanneer “vreemdelinge” instroom nie. Selfs al is die vreemdelinge nie werklik “vlugtelinge” nie, lewer hulle probleme op omdat hulle dienste verbruik, gesondheidsorg en onderwys benodig, en werksgeleenthede beset, terwyl hulle nooit ten volle deel van die gasheergemeenskap word nie. Suid-Afrikaners vorm tans ’n gasheergemeenskap vir baie duisende (moontlik selfs miljoene) Afrikane uit Zimbabwe, Nigerië, Ghana, Mosambiek, Angola, Malawie, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Somalië en ’n hele aantal ander Afrika-state. ’n Aantal insidente van xenofobie (vreemdelingevrees of -haat) het reeds voorgekom en die Suid-Afrikaners is nie almal in hulle skik met die teenwoordigheid van ’n massa vreemdelinge nie, maar tot dusver was Suid-Afrika ’n merkwaardig verdraagsame gasheerland.