landboukundige verandering — Afrikaans

Verskillende veranderings in landbouproduksie en grondbenuttingspraktyke het oor duisende jare in alle wêrelddele plaasgevind. Terselfde tyd het veranderings in grondbestuur en grondgebruikspraktyke in alle veeboerdery, grondbenuttingspraktyke en voedselproduksiebedrywe plaasgevind. Die mees dramatiese en verreikende veranderings is veroorsaak deur die sogenaamde lanbou-rewolusie wat sowat 10 000 tot 12 000 jaar gelede plaasgevind het toe mense hulle nomadiese lewensstyl laat vaar het, en hulle in sekere lokaliteite gevestig het waar hulle al hulle voedsel self moes produseer en die surplus met naburige groepe kon verruil of verhandel. Dit was die geboorte van landbou as ’n bedryf in die moderne sin van die woord. Mense moes leer hoe om jaarliks op dieselfde grond ’n oes te maak en hulle veekuddes binne hulle beskikbare beweidingsgebiede te bestuur. Die metodes van volhoubare benutting het daar ontstaan. Die tweede belangrike en invloedryke landboukundige verandering wat plaasgevind het, was die sogenaamde “groen rewolusie” van die 1950’s toe wetenskaplik geteelde en gekweekte variëteite diere en graangewasse soos koring, mielies en rys beskikbaar gestel is en tot ’n dramatiese verhoging in produksie gelei het. Graanproduksie en voedselbeskikbaarheid het wêreldwyd die hoogte ingeskiet (kyk “food security”). Nuwe variante word steeds gekweek en plaagbeheer verbeter voortdurend sodat voedselproduksie steeds styg. Tog is daar miljoene mense in ’n hele aantal lande in die wêreld wat hongerly en selfs van hongersnood sterf (kyk “vulnerability”). In etlike streke het die landboubedryf geheel en al verander om by die moderne markkragte aan te pas. Daar is na ander gewasse oorgeskakel en in sommige gevalle na ander metodes soos minimum bewerking. In sekere streke in Zambië is daar van mielieverbouing na katoenboerdery oorgeskakel omdat katoen ’n meer lonende kontantgewas is. In sekere gebiede van Suid-Afrika is wildboerdery vinnig besig om beesboerdery te vervang. In sekere opsigte is wild goedkoper om aan te hou as beeste en aangesien die landboubedryf in Suid-Afrika nie meer gesubsideer word soos in die VSA en die lande van die Europese Unie nie, skakel baie boere van graanverbouing en veeteelt na wildboerdery oor. In dele van die Klein-Karoo is skaapboerdery byna heeltemal deur volstruisboerdery vervang. Hoe suksesvol hierdie veranderinge gaan wees, sal oor ’n paar jaar eers duidelik word, want ten tye van hierdie skrywe is die uiteinde van hierdie landbouverandering nog nie voorspelbaar nie.