eutrofikasie — Afrikaans

Die chemiese en biologiese veranderinge wat die water in ’n varswaterbron soos ’n rivier, meer of dam as gevolg van menslike aksies ondergaan. Eutrofiese water is hoogs besoedel en bevat hoë konsentrasies van ’n verskeidenheid chemiese verbindings waarvan fosfaat- en stikstofverbindings die vernaamste is. Hierdie chemiese stowwe is plantvoedingstowwe wat aanleiding gee tot die versnelde groei van plante wat in die water leef (byvoorbeeld waterlelies en alge) asook oewerplante (soos riete en biesies) wat op die vloedvlakte en walle van die waterbron groei. Die meeste van hierdie plante is sterk-groeiende pioniersplante en hulle floreer wanneer addisionele voedingstowwe beskikbaar is. Die kragtige groei van die water- en vleilandplante verminder die suurstofinhoud van die water. Gevolglik sal visse, krappe, watervoëls, en menige ander vorme van akwatiese lewe (organismes wat in die water lewe) sukkel om te oorleef, terwyl party sommer sal uitsterf en uit die ekosisteem sal verdwyn (kyk “ecology”, “ecosystem” en “wetlands”). Eutrofikasie kan dus ’n hele ekosisteem totaal wysig of vernietig. Ontspanningsaktiwiteite soos bootvaarte, waterski en hengel is beswaarlik moontlik in water wat heeltemal met waterplante bedek is. Dit kan ’n drastiese negatiewe uitwerking op die toeristepotensiaal van ’n gebied hê. Die oorsprong van die besoedelingstowwe is kunsmis wat deur die afvloei van reënwater vanaf landerye na die waterliggaam gespoel word, industriële afvalstowwe wat doelbewus na ’n waterliggaam gepomp word, en ondoeltreffende rioleringsstelsels waardeur rou menslike afval (ekskreta) doelbewus of per abuis in ’n nabygeleë waterliggaam weggedoen word. Eutrofikasie is een van die moeilikste en duurste omgewingsprobleme om op te los. ’n Skokkende voorbeeld van eutrofikasie is te vinde in die Hartebeespoortdam in Gauteng. Die damwater het uiters hoë nitraat- en fosfaatkonsentrasies. Om sake te vererger, is die damoppervlak voortdurend byna heeltemal bedek met uitheemse hiasinte wat baie jare gelede per abuis in die dam ingespoel het en gedy in die dam se voedingstofryke, besoedelde water. Ten spyte van talle pogings om die hiasinte deur middel van ’n wye reeks metodes uit te roei, is geen realistiese permanente oplossing vir die probleem al gevind nie.