omgewingsgesinde — Afrikaans
’n Persoon wat besorg is oor die negatiewe impak van menslike aktiwiteite op die gehalte van die natuurlike omgewing, en die feit dat sekere menslike aksies sekere gebiede of selfs die globale lewensonderhoudende omgewing degradeer. Omgewingsgesindes onderskryf ’n wêreldbeskouing en etiese kode dat die natuurlike omgewing beskerm, bewaar en selfs totaal ongeskonde gepreserveer moet word. Omgewingsgesindes is nie almal ewe betrokke by die wêreldwye omgewingsbeweging nie. Hulle omgewingsentimente vorm inderwaarheid ’n kontinuum wat strek van dié wat passief die pogings om die omgewing te beskerm, ondersteun, tot dié wat aktiewe lede van natuurbewarings- en omgewingsbeskermingsorganisasies is, tot die ekstremistiese aktiviste wat selfs provokatiewe en gewelddadige aksies gebruik om die natuurlike omgewing te beskerm (kyk “ecocentrism”). Daar is ’n verskeidenheid woorde en terme wat gebruik word om omgewingsgesindes te beskryf. Eerstens is daar “lig groenes” wat gematigde simpatiseerders is en nie sal deelneem aan aktiewe proteste oor ’n omgewingsaak nie. Die minder gematigdes wat soms selfs sal aansluit by die openbare protes om die vernietiging van ’n spesifieke omgewingslandmerk of die omgewing in ’n spesifieke gebied te voorkom; hulle staan as die “groenes” bekend. Baie natuurwetenskaplikes behoort tot hierdie groep. ’n Aantal wetenskaplikes uit verskeie wetenskappe was betrokke by die beskerming van die omgewing waar die paleontologies-belangrike grotte soos Sterkfontein en Swartkrans geleë is. Hulle was ook aktief gemoeid met die verklaring van daardie gebied as ’n wêrelderfenisterrein bekend as die Wieg van die Mensdom. Die “donker groenes” (of “bunny huggers” en “tree huggers”) vorm die ekstremistiese omgewingsaktiviste wat onverpoos aktiewe veldtogte voer teen sowel ontwikkelings wat ’n negatiewe impak op die natuurlike omgewing sal hê, as enkele projekte wat die habitat van ’n spesifieke dier of insek sal vernietig. Op die ekstreme linker uiteinde van die spektrum is die omgewingsaboteurs en -terroriste wat nie sal skroom om tot kriminele optrede oor te gaan in hulle pogings om hulle doel te bereik nie (kyk “ecocentrism”). Daar is drie uitstaande voorbeelde van wetsgehoorsame omgewingsaktiviste wat hulle lewens verloor het as gevolg van hulle pogings om die omgewing te beskerm. Hulle is: Chico Mendez wat die gierige, omgewingsvernietiging deur die onwettige afkap van die groot hardehout bome in die Amasone-oerwoude in Brasilië wou voorkom; Ken Saro-Wiwa wat aktief protes aangeteken het teen die groot internasionale oliemaatskappye se verwoesting van die omgewing in die Niger-delta deur hulle gulsige, gevaarlike en onverskoonbare ontginning van olie; en Dian Fossey wat gepoog het om die onwettige uitwissing van die berg-gorillas in Sentraal-Afrika stop te sit. Al drie is vermoor (hoewel Saro-Wiwa se dood amptelik as “wettige teregstelling” beskryf word) as ’n direkte gevolg van hulle omgewingsaktivisme. Hulle het omgewingshelde en -martelaars geword en hulle bydrae tot die huidige, globale omgewingsbeweging moet nie onderskat word nie.