omgewingsgeregtigheid — Afrikaans

Hierdie is waarskynlik die moeilikste omgewingsterm om vas te pen. Omgewingsbestuur handel oor konsepte en wetenskaplike feite wat maklik gedefinieer kan word, en omgewingsreg handel oor wette, maar nie een van die twee handel oor geregtigheid nie. Geregtigheid handel oor dit wat goed is, en dit wat sleg is, oor reg en verkeerd, oor regverdigheid en onregverdigheid. Geregtigheid is nie ’n aangeleentheid waarmee omgewingskundiges en selfs regsgeleerdes vertroud en gemaklik is nie! Geregtigheid is ’n ontasbare, filosofiese konsep wat in ’n ewe ontasbare denkkonstruksie, naamlik etiek, gegrond is. In etiek omvat geregtigheid die beginsel van regverdigheid dat soortgelyke gevalle eenders hanteer sal word, dat ’n spesifieke verdeling van voordele en laste regverdig sal wees, en dat straf ewewigtig tot die oortreding of wandaad sal wees. Die hele idee van geregtigheid is uiters belangrik in omgewingsake. Die arm, landelike gemeenskappe in baie dele van die wêreld het geen alternatief (opsie) as om hulle natuurlike omgewing vir lewensonderhoud te plunder nie (kyk “environmental resources” en “exploitation). Ja, hulle rig enorme skade aan en veroorsaak omgewingsdegradasie, maar wat kan hulle anders doen? Tog word hulle dikwels hewig gekritiseer, veral deur welaf toeriste wat deur die verwoeste gemeenskapsgebiede ry op pad na buitensporige duur natuurreservate en eko-herberge (kyk “eco-lodges”). Is hierdie kritiek regverdig? Die grootste lugbesoedelaars is die ryk, geïndustrialiseerde, ontwikkelde lande, maar die nadelige gevolge van atmosferiese besoedeling word dikwels meer ernstig ervaar deur die arm, ontwikkelende lande. Is dit regverdig? Brasilië word hewig gekritiseer vir die uiters winsgewende uitroeiing van die Amasone-oerwoude. Die verwoesting van die woude is sekerlik nie moreel regverdigbaar nie, maar om van Brasilië te verwag om die woude te bewaar sodat dit die CO2 wat deur die ontwikkelde lande soos die Verenigde State van Amerika in die atmosfeer vrygestel word, te filtreer, is definitief ook nie moreel regverdigbaar nie. Die vraagstuk van geregtigheid was nie eers op die agenda toe die Aardberaad in 1992 in Rio de Janeiro begin het nie. Die ontwikkelende lande het egter seker gemaak dat die vraagstuk van omgewingsgeregtigheid die hoof besprekingspunt van die beraad geword het. Sedertdien, is die paradoks tussen gierigheid en moraliteit deel van alle omgewingsdenke. Die wetlike beveiliging van die beginsel dat die besoedelaar moet betaal, is waarskynlik die enigste ware vooruitgang wat in hierdie verband gemaak is.