omgewingsdegradasie — Afrikaans

Die mensgemaakte, progressiewe verlies van ’n gebied se vermoeë om lewe te onderhou. Lugbesoedeling, waterbesoedeling, oorbeweiding, oorbenutting, gronderosie, onoordeelkundige mynboupraktyke, oorlogvoering, plantegroeivernietiging (kyk “deforestation”) en enige ander mensgemaakte (antropogene) deteriorasie van, en uiteindelike totale verlies van, die natuurlike poduksiepotensiaal en dravermoë van ’n gebied, kan omgewingsdegradasie veroorsaak. Enige een of meer van die bogenoemde oorsake kan ’n spesifieke deel (gebied) van die omgewing in so ’n mate degradeer dat geen lewende organismes (insluitend mikrobiese lewe) daar kan oorleef nie. Alle vorme van lewe wat vandag bestaan, is in ’n mindere of meerdere mate by die omgewing waarin hulle leef, aangepas. Indien daardie omgewing vinniger verander as wat die lewendige wesens (insluitend menslike wesens) kan aanpas of verander (“evolve”), sal massa-uitsterwing van lewe op Aarde plaasvind. Mense is reeds ’n paar miljoen jaar lank besig om die omgewing te verander, maar as gevolg van die enorme toename in menslike getalle en verbysterende tegnologiese vooruitgang oor die afgelope 150 jaar word onrealisties vinnige verandering deesdae op die omgewing afgedwing. In die diepste sin is omgewingsbestuur daarop gemik om onomkeerbare degradasie van die omgewing te voorkom. Indien ons nuutste pogings van omgewingsbestuur misluk, sal ons waarskynlik ons omgewing degradeer tot ’n toestand waar geen lewe meer onderhou kan word nie en alle lewe wat ons ken, sal uitsterf. Dit is belangrik om daarop te let dat die omgewingsdegradasie wat hier ter sake is, mensgemaak eerder as natuurlike omgewingsverandering is. Natuurlike prosesse van omgewingsverandering degradeer nie die omgewing nie, dit vind stadig plaas en die meeste van die lewende organismes kan verander (evolueer) om by die veranderde omgewing aan te pas. Dit is reeds 3 500 miljoen jaar lank besig om plaas te vind, maar menslike aktiwiteite is verantwoordelik vir ’n versnelde koers van verandering, en ons het nie werklik ’n idee wat die uiteinde van sulke vinnige verandering gaan wees nie.