ekonomiese ontwikkeling — Afrikaans

Die vlak van finansiële welstand van die bevolking van ’n land of ’n spesifieke groep mense; eersgenoemde is ’n nasionale maatstaf en laasgenoemde is ’n plaaslike maatstaf. Die ekonomiese ontwikkeling van ’n land of ’n groep mense gaan teoreties deur ’n aantal stadiums, naamlik primêre ekonomiese aktiwiteite (soos bestaansboerdery, visvangs en bosbou), gevolg deur ’n stadium van sekondêre aktiwiteite (soos vervaardiging en geïndustrialiseerde produksie van verbruikersgoedere), tot tersiêre aktiwiteite (soos dienste en gasvryheid), en uiteindelik tot kwaternêre ekonomiese aktiwiteite waar kennis en inligtingsdienste die belangrikste ekonomiese aktiwiteite is (kyk “development”, “developing countries” en “dual economy”). Verskeie modelle van ekonomiese ontwikkeling is reeds ontwikkel. Die mees bekende modelle is dié van Rostow wat van toepassing is op die welvarende, ontwikkelde nasies soos dié van Wes-Europa en Noord-Amerika, die model van Barke en O’Hare wat toepaslik is vir die armer, ontwikkelende state van Afrika en Asië, en die kern-randmodel van Friedman wat die ruimtelike patrone van ekonomiese ontwikkeling in ’n spesifieke gebied soos ’n stad of ’n land beskryf en verklaar. Menslike welstand soos die toegang tot van mediese dienste, gemiddelde vlakke van geletterdheid en skoling, en die bekombaarheid van sosiale dienste word nie in ag geneem wanneer die vlak van ekonomiese ontwikkeling beskryf word nie.