ekologiese voetspoor — Afrikaans

Die impak wat enige mensgemaakte ontwikkeling, soos ’n nedersetting, ’n myn, ’n pad, ’n enkele gebou, konstruksie of onderneming van enige grootte of kompleksiteit op die omgewing waar dit gebou word, het. ’n Ekologiese voetspoor het twee komponente, naamlik die intensiteit daarvan en die ruimtelike omvang daarvan. Teoreties kan ’n ekologiese voetspoor “swaar”, maar ruimtelik beperk wees. Dit kan ook “lig”, maar ruimtelik uitgebreid wees. Alle mensgemaakte konstruksies benodig brandstof, vervoer, voedsel en afvalbestuur. Hierdie behoeftes en dienste reik gewoonlik veel verder as die ontwikkeling self en sodoende word ’n ekologiese ruimte afgebaken (kyk “demarcation”). Stede, dorpe, lughawens en vervaardigingsaanlegte het ’n groot impak op die omgewing en hulle ekologiese voetspore is uitgebreid. Selfs alleenstaande plaasopstalle in ’n plattelandse gebied het beduidende ekologiese voetspore. Alle ekotoerismefasiliteite en -ondernemings maak ’n impak op die omgewing (kyk “eco-lodges”). Selfs die mees minimalistiese staproetes het ’n mate van impak en ’n ekologiese voetspoor. Ook ekslusiewe ekobestemmings wat roem daarop dat hulle omgewingsvriendelik is, het verstommende groot en swaar ekologiese voetspore, veral wanneer hulle privaat landingstroke en baie personeel om te huisves, het. ’n Universiteit soos Unisa het ’n reuse ekologiese voetspoor. Dink aan al die geboue, die personeelparkering, die studentefasiliteite, die posdienste, en die fasiliteite vir telefoniese en internet-kommunikasie wat nodig is vir afstandsonderrig. Selfs die Wieg van die Mensdom Wêrelderfenisterrein het ’n beduidende impak op ’n half-landelike oppervlak wat etlike vierkante kilometer beslaan. Militêre operasies en oorlogvoering het uiteraard enorme ekologiese voetspore. Ontspanning vir die meer gegoedes en die rykes, in die vorm van gholfbane, ski-oorde, renbane, mensgemaakte 4x4-roetes, ensovoorts het – ironies genoeg – enorme ekologiese voetspore waaraan selde gedink word. (Kyk “ecology” en “environmental degradation”.)