dreineringskom — Afrikaans

’n Sekere gedeelte van die land wat deur een rivier en sy sytakke dreineer (of afgewater) word. Dit word van die aangrensende dreineringkomme geskei deur riwwe of stroke hoër-liggende land. ’n Dreineringskom word deur ’n waterskeiding begrens (kyk “watershed”). ’n Dreineringskom kan as ’n oop sisteem beskou word. Dit ontvang insette (soos reën en smeltwater vanaf sneeu en ys) wat water na die sisteem voer, en het uitsette (soos evapotranspirasie en stroomafloop) wat water uit die sisteem wegvoer. Verskillende prosesse vind in die dreineringskom plaas, naamlik onderskepping, oppervlakberging (-storing) van water, infiltrasie, deursypeling, afwaartse syfering, storing van water in die vorm van groundwater, grondwatervloei, oppervlakafloop (oppervlakvloei), kanaalberging en kanaalvloei. Dreineringskomme het verskillende vorme (morfometrie), groottes en hoogs uiteenlopende eienskappe. Die studie van dreineringskomme is ’n spesialisasieveld in ’n hele aantal wetenskappe, insluitend Geografie. (Kyk “channelization”.)