bestemmingsbeeld — Afrikaans

Die kenmerk wat ’n plek in die verbeelding van die publiek tipeer. Wanneer mense aan die Kruger Nasionale Park dink, dink hulle onmiddellik aan die “Groot Vyf”, naamlik leeus, luiperds, renosters, buffels en olifante. Dit is die beeld wat die breë publiek van die bestemming het en die rede waarom hulle soontoe gaan. Wanneer hulle terugkom, wil almal eerste weet of hulle leeus gesien het en daarna wil hulle weet of jy die ander lede van die Groot Vyf gesien het. Elke bekende bestemming het ’n beeld. Die beeld van New York is Manhattan en die Statue of Liberty, Parys word geassosieer met die Eiffel-toring, Rome met romeinse ruïnes, Hong Kong met hoë geboue dig bymekaar, Las Vegas veronderstel dobbel, Arizona is woestyn en die Grand Canyon, Egipte beteken piramiedes, Rusland is uitgestrekte, sneeubedekte vlaktes, en Afrika as geheel word geassosieer met eindelose vlaktes vol wildstroppe en hier en daar ’n groep leeus wat ’n sebra plattrek en krokodille wat blouwildebeeste verslind. Bemarkers sal kortsigtig wees as hulle nie hierdie bestemmingsbeelde uitbuit nie, maar hulle uitdaging is om die besoekers te oortuig dat daar meer as hierdie bekende aantreklikhede aan die bestemmings is. ’n Toeristebestemming wat nie ’n bekende beeld het nie, moet sy treffendste of unieke aantreklikheid as ’n onweerstaanbare “moet-sien-eienskap” bemark om besoekers te lok en dan moet hierdie beeld skaamteloos tot die beste voordeel van die bestemming gebruik word. UNESCO se uimuntende promosie van al die verskillende wêrelderfenisterreine is ’n goeie voorbeeld van die effektiewe aanwending van bestemmingsbeeld.