desertifikasie — Afrikaans
Die verlies van ’n gebied se produksievermoë en die vermoë om lewe te onderhou. Letterlik beteken die term “woestynvorming”. Die term het in die vroeë 1970’s deel van ons alledaagse woordeskat geword toe ’n reusagtige, half-woestynstreek direk suid van die Sahara-woestyn (bekend as die Sahel) ’n aantal uitsonderlik droë jare beleef het. Hoewel hierdie gebied normaalweg semi-aried is, het dit altyd ’n groot landelike bevolking onderhou wat akkerbou beoefen het of ’n nomadiese bestaan gevoer het deur met hulle veetroppies van die een weidingsgebied na die ander rond te trek. Ná ’n paar jaar van abnormale lae of geen reënval hoegenaamd nie, was die hele streek totaal kaalgestroop van plantegroei (kyk “desforestation”) en nie in staat om die plaaslike gemeenskap te onderhou nie. Internasionale organisasies moes hulp verleen en voedsel aan die mense verskaf, maar duisende het nogtans van honger gesterf. Hierdie tragiese gebeurtenis het die verbeelding van mense dwarsoor die wêreld aangegryp en die idee dat die Sahara-woestyn stadig suidwaarts “kruip” of sprei is gebore. Die wanopvatting dat omtrent al die woestyne in die wêreld stadig as gevolg van natuurlike toestande en klimaatsverandering uitbrei en die aanliggende streke oorweldig, het ontstaan en is algemeen aanvaar. Ná ’n uitgebreide internasionale navorsingsaksie is daar tot die gevolgtrekking gekom dat desertifikasie ’n omgewingsdegradasieproses is wat veroorsaak word deur oormatige menslike benutting wat lei tot produktiwiteitsverlies in semi-ariede gebiede en hulle tot woestynagtige landskappe verander. Inderwaarheid lei ontbossing (kyk “deforestation”) uiteindelik tot desertifikasie. Dit is belangrik om te noem dat uitgebreide gebiede van die Sahel hulle produktiwiteit herwin het ná etlike jare van normale reënval en meer gepaste beweidings- en bewerkingspraktyke.