afhanklikheidsparadigma — Afrikaans

Die breë opvatting dat die ekonomies aktiewe mense in ’n bevolking vir dié wat nie ekonomies aktief is nie, moet sorg. Die bejaardes en die kinders kan nie werk om kos te produseer of geld te verdien nie. Daarom is hulle van hulle kinders, ouers of ander mense afhanklik vir hulle voortbestaan. Dit word algemeen aanvaar dat die individue wat tussen 15 en 65 jaar oud is, die ekonomies aktiewe groep van die bevolking uitmaak en ’n bydrae tot ekonomiese produktiwiteit lewer. Individue jonger as 15 jaar en individue ouer as 65 jaar maak die ekonomies onaktiewe groep uit. ’n Afhanklikheidskoers (of -ratio) word bereken om aan te toon hoeveel mense (individue) van elke 100 ekonomies aktiewe persone afhanklik is. Teoreties word daar na ’n lae afhanklikheidskoers gestreef aangesien dit beteken dat ’n groot groep mense tot die ekonomie bydra. ’n Hoë afhanklikheidskoers is nie ekonomies gesog nie, want dit beteken dat ’n klein groepie mense vir ’n groot groep afhanklikes moet sorg. Die afhanklikheidskoerse van die ryk, meer-ontwikkelde lande is baie laer as dié van die armer, ontwikkelende lande. Vir die eersgenoemde state wissel die afhanklikheidskoerse tipies van 50 tot 70 persent, maar vir die ontwikkelende lande kan dié koerse maklik hoër as 100 persent wees wat aandui dat daar meer afhanklikes as produserendes in die bevolking is. Die afhanklikheidskoers het een groot tekortkoming, naamlik dat dit slegs ouderdom gebruik om mense as ekonomies produktief of onproduktief te groepeer. Dit neem glad nie die mense wat kan werk, maar nie betaalde arbeid kan vind nie (dit wil sê, werkloses), in ag nie. Die algemene teoretiese raamwerk van afhanklikheid kan nie op die afhanklikheidskoers alleen staatmaak om die stand van produksie en afhanklikheid in ’n land te beskryf nie.