demonstrasie-effek — Afrikaans
Die wedersydse invloed van die tradisies, kulturele praktyke, lewenstyle, waardes en norme van verskillende mense op dié van ander gemeenskappe of groepe mense. Die term is verwant aan akkulturasie (kyk “acculturation”), maar dit betrek gewoonlik kleiner groepe mense en minder omvattende gedragspatrone as in die geval van akkulturasie. Akkulturasie is meestal ’n een-rigtingproses, maar demonstrasie-effek is dikwels ’n twee-rigtingproses, dit wil sê, ’n wedersydse proses, maar dit is beslis nie noodwendig so nie. Die teenwoordigheid van besoekers en amptenare in ’n groep mense met eiesoortige tradisionele, kulturele praktyke en waardesisteme kan albei groepe mense beïnvloed aangesien hulle mekaar begin na-aap. Toerisme skep ideale toestande vir na-apery. Dit mag ’n heeltemal onbewustelike proses wees, maar wanneer een groep mense sien hoe ’n ander groep mense leef, begin hulle sekere praktyke na-aap. Toeriste, reisigers en diplomatieke gesante van Westerse lande het byvoorbeeld êrens in die Verre-Ooste geleer om sushi te eet en dit aan hulle vriende in hulle tuislande bekendgestel. Dit het inslag gevind en deesdae is dit ’n gesogte lekkerny in Wes-Europa, die VSA en selfs Suid-Afrika. Toeriste wat op besoek aan Suid-Afrika leer dat mopanie-wurms heerlik is, kan dit as ’n gesogte lekkerny aan die res van die wêreld voorstel. Dit sal egter nie soos akkulturasie die hele kultuur van ander mense verander nie. Netso sal die dra van sonbrille deur mense wat toeriste met sonbrille gesien het, nie akkulturasie veroorsaak nie. Demonstrasie-effek is in wese na-apery, en dit betrek minder omvattende kulturele aspekte en gebruike as akkulturasie. Laasgenoemde het betrekking op die totale lewenstyl, kultuur, geloofsisteme en wêreldbeskouing van ’n groep mense, terwyl demonstrasie-effek na enkele gedragspatrone, voedsel, modes en enkel verskynsels verwys. ’n Goeie voorbeeld van demonstrasie-effek is die huwelikseremonies van moderne swart Suid-Afrikaners. Hoewel hulle glad nie afgesien het van hulle tradisionele huwelikseremonies nie, het hulle die tipiese “witrok-seremonie” van wit Suid-Afrikaners ’n integrale deel van hulle huwelikstradisie gemaak deur twee afsonderlike seremonies te hou waarvan een ’n tipiese “witrok-seremonie” is. Wit Suid-Afrikaners het egter nie enige elemente van die tradisionele swart Afrikane se huwelikseremonie in hulle eie huwelikstradisie opgeneem nie.