afbakening — Afrikaans
Die vassteling en beskrywing van die grense van ’n gebied. Dit beteken letterlik “afmerking”. Dit omvat die bepaling van die horisontale en/of vertikale strekking van die gebied waarin ’n spesifieke veranderlike (eienskap, toestand, verskynsel) voorkom asook die beskrywing van die grense (ruimtelike limiete) van die gebied waar dit voorkom. Die grense van die voorkomsgebied word deur middel van ’n kaart beskryf. Die veranderlike kan enigiets wees van die bevolking wat ’n sekere dialek van ’n taal praat, tot die voorkoms van ’n skaars plantspesie of ’n sekere minerale hulpbron. Afbakening is ’n uiters belangrike konsep in Geografie. Geograwe bestudeer die ruimtelike verspreidingspatrone van veranderlikes of toestande. Die grense van die gebied waarbinne ’n verskynsel voorkom, word beskryf deur dit op ’n kaart aan te dui. Sodoende word die ruimtelike verspreidingspatroon van die verskynsel beskryf. Eindeloos baie voorbeelde kan genoem word, maar slegs ’n paar word hier verskaf: state word afgebaken deur middel van internasionale grenslyne; droë gebiede word afgebaken met behulp van reënval-isohiete; vooruitstrewende streke word afgebaken op grond van die per kapita inkomste of die bruto nasionale produk (BNP); biome word afgebaken op grond van die tipe plante en diere wat daar voorkom; misdaad risiko-areas binne ’n stad word afgebaken met behulp van statistieke oor die aantal misdade wat oor ’n sekere tydperk aangemeld word. Let op dat al die bogenoemde ruimtelike verspreidings deur middel van kaarte beskryf kan word. Sodoende baken geograwe gebiede af, en beskryf hulle ruimtelike verspreidings. Deesdae word sulke data dikwels in geografiese inligtingstelsels (GIS’e) gestoor. (Kyk “regions”.)