ontbossing — Afrikaans
Menslike aktiwiteite wat die natuurlike plantegroei in ’n sekere gebied verwyder of vernietig. Die term verwys nie slegs na woude nie, maar na enige gebied waar enige tipe natuurlike plantegroei voorkom. Menslike aktiwiteite soos oorbeweiding, oorbenutting, toepassing van verkeerde landboumetodes, die gebruik van vuur om areas vir landbou gereed te maak (slash-and-burn verbouing), toevallige of doelbewuste veldbrande, militêre operasies, en menige ander, kan die natuurlike plantegroei in enige gebied stroop. Hierdie aktiwiteite ontbloot die grondoppervlak en maak dit uiters vatbaar vir gronderosie (kyk “erosion”). Reënwater sal eenvoudig oor ’n ontblote oppervlak afvloei, omdat daar geen plantegroei is om afloop te stuit nie. As gevolg van die verhoogde afvloei en die afwesigheid van plantegroei, sal die bogrond wegspoel. Sonder ’n plantegroeibedekking, kan die bogrond ook baie maklik deur die wind weggewaai word. Plantegroeivernietiging (ontbossing) gee aanleiding tot versnelde gronderosie wat tot denudasie oftewel die algehele verlies van die vrugbare bogrond lei. Sonder bogrond kan plantegroei nie onderhou word nie en die area se produksievermoë (produksiepotensiaal) is daarmee heen. Enorme oppervlaktes (areas) op alle kontinente (behalwe Antarktika) is reeds tot hierdie toestand gedegradeer. Hierdie gebiede sluit tropiese woude, grasvelde, halfwoestyne en droë gebiede, fynbosstreke, bergagtige gebiede met hoë reënval, en selfs sekere gebiede in hoogs vrugbare streke soos die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal in Suid-Afrika in. (Kyk “environmental degradation”).