lande in oorgang — Afrikaans

Minder-ontwikkelende en ontwikkelende lande wat teoreties ekonomies in die proses is om tot hoogs ontwikkelde ekonomieë en lande te ontwikkel. Dit is ’n suiwer ekonomiese klassifikasiestelsel gebaseer op spesifieke ekonomiese teorieë. In 1977 het die Wêreldbank 133 lande op grond van hulle jaarlikse per capita inkomste in vier kategorieë geklassifiseer: die lae-inkomste ekonomieë, die laer middelklas-inkomste ekonomieë, die hoër middelklas-ekonomieë, en die hoë-inkomste ekonomieë. Die lande in die eerste drie kategorieë is die sogenaamde ontwikkelende ekonomieë, oftewel lande in oorgang, waarvan daar verwag was om ekonomies te groei. Die onderliggende ekonomiese teorieë waarop hierdie hipoteses en aannames gebaseer is, naamlik dat alle ekonomieë sal groei en dat hulle per capita-inkomste sou verhoog (kyk “developing countries” en “hypothesis”), was nooit universeel aanvaar nie en sedert 1977 is dit as vals bewys aangesien die per capita-inkomste en ekonomiese groei van sekere lae-inkomste ekonomieë selfs nog laer gedaal het. Die 2008-internasionale ekonomiese ineenstorting het bewys dat selfs hoër-inkomste ekonomieë (kyk “developed countries”) deur sekere internasionale gebeure onder ekonomiese druk kan kom en negatiewe groei kan toon. Die 1977-klassifikasie van die Wêreldbank is kennelik verouderd en kan nie in 2013 meer gebruik word nie. Selfs die term “lande in oorgang” het in onbruik verval. Vandag sal ons die BRICS-lande as “lande in oorgang” bestempel (kyk “economic growth”) omdat hulle ekonomieë groei, terwyl sommige hoë-inkomste lande se ekonomieë selfs negatiewe groei vertoon. Sommige van die lande met die laagste per capita inkomstes in 1977, het selfs nóg laer gedaal en ’n hele aantal lande met middel-klas inkomste-ekonomieë het tot die lae-inkomste kategorie gedaal. (Kyk “development”, “developing countries”, “economic development” en “economic growth”.)