gemeenskapsbetrokkenheid — Afrikaans

Die deelname van die gemeenskapslede in die besluitneming en uitvoering van die besluite in verband met die omgewing of enige ander aspek in die gebied waar hulle leef. Populêr gestel, beteken dit dat wat ook al in die gebied verrig word of gebeur, in ooreenstemming met die wense van die betrokke en geïnteresseerde partye (IAPs) – insluitend die mense wat daar woon, dit wil sê die plaaslike gemeenskap – is. Gemeenskapsbetrokkenheid is ’n inherente deel van moderne demokratiese bestuur. Die Suid-Afrikaanse Konstitusie (Wet nommer 108 van 1996) maak selfs voorsiening vir die betrokkenheid van die plaaslike gemeenskap in besluitneming oor die omgewing en dit is duidelik en onomwonde gestel in die nasionale omgewingswetgewing (NEMA), Wet 107 van 1998 (kyk “environmental management”). Gemeenskapbetrokkenheid is ’n vereiste in ons omgewingswetgewing. Die mense moet ’n sê hê in die beplanning binne hulle omgewing en hulle moet die geleentheid kry om voordeel uit sulke ontwikkelings in hulle omgewing te trek. Daar is verskillende wyses waarop hulle voordeel kan trek, naamlik voorkeur in aanstelling in poste, die voorkeur-geleentheid om gastehuise te skep en die geleentheid om hulle kuns- en handwerk te bemark.