hulpbronskepping — Afrikaans

Die omskepping van bestaande natuurlike landmerke of mensgemaakte, sosio-kulturele instellings na winsgewende hulpbronne. In Geografie het hierdie konsep hoofsaaklik betrekking op bestaande verskynsels of aktiwiteite wat tot winsgewende toeriste-aktiwiteite omskep word. In ’n gesamentlike poging van die owerhede en die privaatsektor is die ou, min of meer verlate en sterwende dorpie Pelgrimsrus omskep in ’n winsgewende toeristebestemming. ’n Paar ou geboue is gerestoureer, die beskikbare akkommodasie is opgegradeer, ou en vergane gouddelwersfasiliteite is herskep sodat toeriste self kan probeer om ’n bietjie goud te delf, ontwikkelaars is finansieel ondersteun om kuns- en handwerkondernemings te vestig, en om staproetes in die lieflike natuurskoon te vestig, en die dorp as ’n onweerstaanbare toerismebestemming te bemark. Min of meer dieselfde is gedoen in die geval van die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein (kyk “complementarity”). Kulturele geleenthede soos die Grahamstad Fees, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die Kultuvaria in die Paarl en die Oppikoppie popmusiekfees kan ook as hulpbronskepping beskou word, maar daar is geen regeringsbetrokkenheid in hierdie feeste nie. Afgesien van die blootstelling en geleenthede wat hierdie feeste ’n verskeidenheid kunstenaars bied, kan die plaaslike mense ook ’n winsgewende inkomste maak deur akkommodasie en/of spyseniering aan die massa feesgangers te verskaf. Hierdie feeste bied ook aan die verkopers van kuns- en handwerk – veral sogenaamde “etniese kuns” soos kralewerk en houtsnee-items – ’n geleentheid om hulle ware te bemark. Hierdie sosio-kulturele feeste is dus ’n geleentheid vir mense om ’n lewe te maak sonder enige hulp van die regering. Uit ’n ekonomiese perspektief is hierdie geskepte sosio-kulturele hulbronne uiters gewens aangesien hulle op voetsoolvlak self-gegenereerde ontwikkelingsgeleenthede bied wat uiteindelik meer volhoubaar as die kortstondige, regeringsgedrewe skemas is.