klimaatsveranderlikheid — Afrikaans

Die gemiddelde langtermyn-weerpatrone is nie onveranderlike konstantes nie. Hulle verander voortdurend oor tyd en ruimte (kyk “climate”) sodat die globale klimaatspatrone voortdurend verander (kyk “spatio-temporal perspective”). Klimaat is dus ’n hoogs veranderlike komponent van die Aard-atmosfeersisteem. Tyd-ruimtelike veranderlikheid is waarskynlik die belangrikste kenmerk van klimaat (kyk “space-and-time perspective”). Klimaatverandering is ’n doodnormale proses. Elke enkele kolletjie op die Aarde se oppervlak ervaar al miljoene jare lank klimaatsverandering. Hierdie langtermyn variasies vind oor baie duisende of honderdduisende jare plaas – dit wil sê, dit vind in geologiese tyd plaas – gevolglik is ’n rekord van die veranderings in die gesteentes en rotsformasies vergestalt. Die gesteentes weerspieël die klimaatstoestande wat tydens hulle vorming geheers het. Gevolglik bevat die gesteentes ’n volledige historiese rekord van die tyd-ruimtelike globale omgewingsveranderings. Deur die gesteentes te bestudeer, kan ons bewys dat omgewingsverandering ’n onbetwyfelbare feit is, maar ons kan nog nie die oorsake van die voortdurende verandering verklaar nie. Ons kan ruimtelike klimaatsveranderlikheid redelik goed verklaar, maar ons weet bitter min van die verandering oor tyd. Om al die besonderhede van die klimaatsveranderinge gedurende die Aarde se lang geskiedenis te beskryf, sal wetenskaplikes nog baie jare besig hou. Tans word klimaatsverandering in die vorm van aardverwarming deur baie wetenskaplikes bestudeer, deur al wat leef en beef bespreek, in wetenskaplike asook populêre leke-publikasies gedebateer, en is die onderwerp van tallose internasionale konferensies, en die dryfkrag agter ’n multi-miljoen-doller industrie. Die teorie van aardverwarming postuleer dat menslike aktiwiteite klimaatsverandering veroorsaak en/of versnel. Die tyd sal leer of dit waar of vals is. (Kyk “global warming”, “space-in-time perspective”, “spatial data”, “spatial distribution” en “temporal change”.)