klimaat — Afrikaans

Die gemiddelde toestand van die atmosfeer – en dus die weer (kyk “weather”) – in ’n sekere gebied oor ’n lang tydperk, soos 20 jaar of verkieslik 35 jaar. Deur die weer in ’n gebied daagliks oor ’n tydperk van 20 of meer jaar te bestudeer en te dokumenteer, kan veralgemenings oor die weer in daardie gebied gemaak word en kan ons die tipe weer in daardie spesifieke gebied vir enige tyd van die jaar voorspel. Die gemiddelde weer van ’n gebied word die klimaat van die gebied genoem, want uit die gedokumenteerde feite van baie jare kan ons die heersende klimaat van die gebied beskryf. Die klimaat van enige gebied word bepaal deur die breedtegraadsligging, die hoogte bo seevlak, die nabyheid van die oseaan, en ander plaaslike geografiese toestande. Enige gebied kan korttermyn afwykings van die verwagte (“normale”) of veralgemeende klimaat ervaar. Droë seisoene, selfs lang droë periods so lank as een of meer jare kan voorkom in gebiede wat “normaalweg” ’n humiede (vogtige) klimaat het. Koue gebiede kan abnormale warm tye beleef, en droë gebiede kan abnormale nat seisoene ervaar, ensovoorts, maar elke plek op Aarde het ’n “normale” of “tipiese” klimaat wat ’n veralgemeende beskrywing van die weerstoestande oor ’n aantal dekades is. Klimate mag egter as gevolg van natuurlike oorsake oor lang tydperke verander, maar sulke veranderings vind oor tydperke van honderde of duisende jare plaas. (Kyk “climate change” en “climate variability”.)