choropleetkaarte — Afrikaans

Tematiese kaarte waarin die ruimtelike verspreiding van sekere veranderlikes kwantitatief voorgestel word deur kleure of arsering binne die grense van geografiese eenhede wat werklike administratiewe eenhede soos plase, distrikte, voorstede, streke of selfs kontinente is (kyk “thematic map”, “cadastral map” en “topocadastral map”). ’n Verklaring (of “sleutel”) wat die betekenis van elke kleur verklaar, is onontbeerlik om die kaart te kan lees. Choropleetkaarte is een van die mees algemeen gebruikte tipes kaarte wat geograwe gebruik, maar hulle het spesifieke nadele wat geograwe in gedagte moet hou. Hulle hoof beperking en nadeel is dat intra-areale ruimtelike veralgemening (’n vorm van ruimtelike veralgemening) binne administratiewe eenhede gebruik word (kyk “spatial interpolation”, “interpolation” en “extrapolation”) wat maklik ’n vals ruimtelike beeld kan oordra. Choropleetkaarte is een van die kaartipes wat die National Geographic Magazine baie algemeen gebruik en dit is die mees algemeen gelese geografiese tydskrif in die wêreld. Bowendien word dit meestal deur nie-geograwe en die leke publiek gelees en hierdie lesers het nie die kennis om hierdie kaarte se veralgemening te analiseer en die voor- en nadele van die gebruik van choropleetkaarte te evalueer nie. Gelukkig is die National Geographic Society wetenskaplik bo alle verdenking en word geografies baie hoog aangeskryf en gerespekteer en sal nie onakkurate of misleidende kaarte publiseer nie.