akkreditasie — Afrikaans

’n Vorm van amptelike erkenning wat getuig daarvan dat ’n toerisme-bestemming, plek, area of terrein aan ’n spesifieke stel vereistes en kriteria voldoen om dit as ’n plek van nasionale of internasionale belang te bewaar. Internasionale liggame soos die Verenigde Nasies se Agentskap vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (UNESCO) (kyk “conventions”) kan bewaringwaardige status aan ’n plek, area of terrein toeken wanneer dit sekere standaarde voldoen. Sodanige internasionale erkenning verhoog die formele status van die betrokke plek, terrein of area asook die omliggende gebied in ’n groot mate. Die belang van die argeologiese nalatenskap in ’n grotsisteem soos dié in die Wieg van die Mensdom, waar die Zwartkrans-, Sterkfontein- en Kromdraai-grotte voorkom, bevredig al die UNESCO-kriteria om dit as ’n terrein van internasionale belang te verklaar. Gevolglik is die area is as ’n wêrelderfenisterrein verklaar. Suid-Afrika besit ’n paar wêrelderfenisterreine soos die Vredefort Koepel (’n oeroue impak-krater wat geskep is toe ’n groot meteoriet die Aarde miljoene jare gelede getref het) en Mapungubwe-kop wat ’n oeroue argeologiese terrein in die noorde van Limpopo is. ’n Akkreditasie soos hierdie veronderstel sekere bestuursimperatiewe. Indien die bestuurspraktyke nie aan die vereistes voldoen nie, kan die akkreditering nietig verklaar word. Onlangs het mynboubedrywighede aangrensend aan Mapungubwe die terrein se integriteit bedreig. Die Suid-Afrikaanse regering moes ingryp in ’n poging om die mynboubedrywighede te reguleer en die akkreditasiestatus van die terrein te bevestig. Daar is etlike ander vorme van akkreditasie waarvan die Ramsar-akkreditasie seker die bekendste is (kyk “wetlands”). ’n Minder bekende akkreditasie is die Blouvlag-strandakkreditasie wat toegeken word aan strande met die nodige kwaliteite, fasiliteite, veiligheidsdienste en goeie ontspanningsgeriewe. Baie Suid-Afrikaanse strande het reeds hierdie status bereik, byvoorbeeld Marina-strand in KwaZulu-Natal. Akkreditasie van enige hoogaangeskrewe liggaam is uiters belangrik vir enige plek of terrein van natuurlike of kulturele belang en alle bestuursaktiwiteite behoort op die verwerwing en behoud van sodanige akkreditasie gemik te wees.