SBD, sentrale besigheidsdistrik — Afrikaans
Die sentrale gebied van aktiwiteit in ’n tradisionele stad is die sentrale besigheidsdistrik (SBD, of CBD). Die oudste stede in die wêreld het ontwikkel deurdat mense hulle gevestig het rondom ’n sentrale aktiwiteitskern waar goedere, ruilhandel, sosialisering, godsdienstige rituele en onderrig bekom kon word. Gewoonlik is die SBD, naby of in die middel van die stedelike gebied gesetel en bevat die belangrikste winkels, professionele dienste en kantore. Dit is die hoof ekonomiese sentrum en die middelpunt van vermaak en ontspanning, en gevolglik lei alle vervoerroetes na die SBD. Alle kleinhandelbesighede (kyk “retail facilities”), professionele praktisyns en die kantore wat aan groot internasionale firmas behoort, is hier geleë en die vervoernetwerk is daarvolgens beplan. Volgens die welbekende, ouer stedelike struktuurmodelle (van, onder andere, Burgess, Hoyt, Mann, en Ullman en Harris) is die SBD binne of naby aan die middelpunt van die stad. Grondpryse in die SBD is normaalweg baie hoër as in enige ander deel van die stedelike kompleks. Baie stede in ’n wye reeks lande (state) het (om verskillende redes) oor die jare dramatiese veranderings in ruimtelike organisasie ondergaan (kyk “retail facilities”). Sommige stede het só groot geword dat mense te vêr na die SBD moes ry om te werk of besigheid te doen. Die “afstand-na-werk”-realiteit en vervoertyd-konsep het gelei tot die ontwikkeling van top-mark kleinhandel-, professionele, en besigheidsondernemings in gebiede wat nader aan die buitewyke van die stede in die top-mark residensiële gebiede aan die ontwikkel was. Die waarde van eiendom in daardie gebiede het dienooreenkomstig gestyg. In sekere ouer stede het die waarde van eiendom in die eertydse SBD beduidend gedaal omdat die top-mark besighede, professionele dienspraktyke en ontspanningskomplekse na ander gebiede binne die stad verskuif het. In sekere ouer stede is die eertydse SBD deur straatbewoners en informele handelaars (kyk “refugees”), kriminaliteit en ontug oorstroom en die SBD is glad nie meer aantreklik vir top-mark besighede, professionele dienste en vermaaklikheid nie. Verjonging of hernuwing (kyk “gentrification”) of herlewing van vergane SBD’s het in ’n hele aantal stede oral in die wêreld begin plaasvind. Dit verg enorme finansiële insette van sowel die openbare as die privaatsektor om ’n SBD tot sy vervloë glorie te herstel. Die SBD van Johannesburg is tans in ’n stadige, hortende proses van hernuwing of verjonging (“gentrification”).