dravermoë — Afrikaans
Dit is ’n term wat in baie vertakkings van Geografie en omgewingsbestuur gebruik word en is dus nie beperk tot enige subdissipline nie. Die term word gewoonlik gebruik in verband met die aantal organismes wat binne ’n spesifieke gebied – van ’n bekende grootte – volhoubaar kan bestaan (kyk “sustainability” en “sustainable development”). Die term kan gebruik word in verband met die konsentrasie mense wat binne ’n sekere gebied volhoubaar kan bestaan, of die aantal wildediere of mak diere (soos beeste, skape, kamele of boerbokke) wat in ’n sekere gebied aangehou kan word sonder om die natuurlike hulpbronne (veral die water en die plantegroei) van die gebied oormatig te verbruik. Indien te veel diere binne ’n sekere weidingsgebied ingeperk word, sal oorbeweiding, plantegroeivernietiging en landdegradasie plaasvind. Dit kom neer op uitbuiting (kyk “exploitation”) van die natuurlike hulpbronne en dit het ernstige gevolge vir die plaaslike omgewing. Dravermoë is uiters belangrik in die bestuur van wildsplase, natuurreservate en bewaringgebiede. Die wildsgetalle binne ’n natuurpark of -reservaat moet bestuur word om onomkeerbare omgewingsagteruitgang te voorkom. Etlike jare gelede het die wetenskaplikes en bestuur van die Kruger Nasionale Park (KNP) aangekondig dat daar meer as die volhoubare aantal olifante in die reservaat is. Hierdie olifant-oorbevolking het ’n bedreiging vir die habitat in sy geheel geword. Die aantal olifante in die KNP moet net eenvoudig verminder word, maar hoe? Menige diereregte-organisasies en die wêreldwye anti-uitdunningsdrukgroep vind uitdunning onaanvaarbaar en staan verskuiwing na ander gebiede voor, maar ’n groot aantal olifante kan nie maklik na ’n ander gebied verskuif word nie. Om 10 of 12 olifante na ’n ander gebied te verskuif, is doenbaar, maar waar gaan mens met 7 000 olifante heen? Die term “dravermoë” word ook algemeen gebruik in verband met die aantal toeriste wat op enige spesifieke tyd tot ’n sekere natuurpark, -reservaat of bewaringsgebied toegelaat behoort te word (kyk “demarketing”). Dit is ’n bestuursprobleem waarmee die besture van hierdie entiteite daagliks worstel. Dit geld ook vir mensgemaakte erfenisterreine waar te veel menslike verkeer (voete) en te veel uitgeasemde CO2 die bewaarde menslike erfenis en kulturele artefakte bedreig. Die katakombes (graftombes) van Rome is ’n voorbeeld van ’n bestemming waar die uitgestalde items (skeletale oorblyfsels) beskerm moet word teen die hoë CO2-konsentrasie in die lug as gevolg van die groot getalle besoekers. (Kyk “acid rain”.)