biotegnologie — Afrikaans

Die tegniek waardeur lewendige organismes of komponente daarvan (soos ensieme) gebruik word om nuwe materiaal te produseer of om bestaande, maar ongewenste organismes, uit te roei of te bekamp. Die biologiese beheer van mikro-organismes of insekte wat oeste verwoes, is deesdae ’n belangrike studieveld in die wetenskap. Dit is dikwels meer omgewingsvriendelik en baie goedkoper om natuurlike organismes of onskadelike organiese middels te gebruik om insekplae en ander peste wat oeste verwoes, te beheer of uit te wis. Die gebruik van kunsmatige insek- en onkruiddoders is ’n duur en omgewingsonvriendelike praktyk aangesien baie organismes wat nie oeste beskadig nie ook – sowel direk as indirek – vernietig kan word. Boonop neig organismes wat landboukundige skade aanrig, om immuniteit teen die insek- of onkruiddoders te ontwikkel. Alle biotegnologie is egter nie op die vernietiging van organismes gemik nie, aangesien dit ook wêreldwyd gebruik word om nuwe, weerstandbiedende, hoë-leweringspesies of -variëteite van landbougewasse te ontwikkel. Dit word ook ruimskoots aangewend in die ontwikkeling van nuwe, voordelige medisinale preparate en medisyne.