vleilande — Afrikaans

Water-gedomineerde gebiede met swak dreinering en gronde wat die grootste gedeelte van die jaar waterversadig is. Etlike verskillende woorde word gebruik om vleilande te beskryf: moerasse, vleie, panne, riviervalleie en rivieroewers tot 10 meter onder die tienjaarvloedlyn. Vleilande onderhou’n spesiale tipe plantegroei soos waterlelies, hiasinte, riete, biesies, watergras en bamboese. Vleilande speel ’n uiters belangrike rol in die omgewing: hulle onderhou spesifieke diere, visse, amfibieë soos paddas, soogdiere soos otters en bewers, reptiele soos krokodille, likkewane, en waterskilpaaie, insekte, watervoëls en voëls wat van vis leef of in die gespesialiseerde vleilandomgewings broei. Vleilande dien as sponse wat oppervlak afvloei vertraag, die grondwatervoorraad aanvul, vloede voorkom deur vloedwater te vertraag, en dit suiwer besoedelde water deur dit te filter en gespesialiseerde waterplante plante absorbeer sekere chemiese stowwe. Menslike aktiwiteite het reeds die meeste vleilande op Aarde verwoes of gedegradeer. Gewasse soos rys is in hulle geplant, baie is gedreineer om ander gewasse daar te plant en die meeste het bloot uitgedroog omdat hulle watertoevoer deur die bou van damwalle en besproeiingskanale afgesny is. Myne het gevaarlike afvalwater in vleie ingepomp en die gevaarlike stowwe het sodoende na die grondwater deurgesyfer en die besoedeling versprei. Jare gelede het die omgewingskundiges besef dat die hele globale ekosisteem in gevaar is indien al die vleilande verlore gaan. Die beskerming van die oorblywende klompie vleilande het ’n hoë-profiel internasionale omgewingsvraagstuk geword. By die Ramsar Konvensie in 1975 is sekere vleilande oral in die wêreld as Ramsar-terreine verklaar en hulle geniet spesiale beskerming. Suid-Afrika kan spog met ’n hele aantal sulke vleilande, soos die St Lucia-estuarie, die Wakkerstroom-vleilande, Nylsvley naby Modimolle, ensomeer. Dit is ons verantwoordelikheid om nie net die Ramsar-vleilande nie, maar alle vleilande te beskerm. Onder die beskerming van die Nasionale Departement van Wateraangeleenthede is ’n spesiale organisasie genaamd “Working for Wetlands” onder die breë sambreel van die “Working for Water”-liggaam geskep. Dit is ’n ko-operatiewe liggaam waarin die openbare en die privaatsektore saamwerk, en dit het reeds prysenwaardige werk gedoen om ons mees belangrike natuurlike hulpbron – water – te beskerm!