afvalbestuur — Afrikaans

Die omgewingsverantwoordelike wegdoening van enigiets waarvoor mense nie verdere gebruik het nie. Dit kan solied, vloeibaar of vlugtig (gas) wees. Dit kan groot, maar skadeloos wees, maar ook klein en hoogs toksies (gevaarlik). Dit kan spesiale behandeling soos verbranding vereis voor dit weggedoen kan word (kyk “incineration”). Jare vóór omgewingsbestuur ’n erkende studieveld geword het en geïntegreerde omgewingsbestuurstelsels ontwikkel is, was daar reeds ’n verskeidenheid afvalbestuurstelsels in verskeie plekke in die wêreld in gebruik. Vandag is dit ’n spesialisasieveld van omgewingsbestuur. (Kyk “environmental management” en “hazardous waste”.) En onthou altyd dat die heel belangrikste omgewingsreël is dat niks ooit werklik weggedoen kan word nie.