verstedeliking — Afrikaans

Die proses waardeur ’n toenemende gedeelte van die totale bevolking van ’n land in die stede en groot dorpe woon. Hoewel mense nog altyd in sekere omstandighede naby bure of familie gaan woon het, het slegs 3% van die wêreldbevolking in 1800 in stedelike gebiede gewoon. In 2000 was byna 50% van die mense in wêreld verstedelik, en hierdie syfer sal waarskynlik in die volgende 10 tot 15 jaar na 60% vermeerder. In die ontwikkelde lande (kyk “developed countries”) was ongeveer 50% van die bevolking in 1950 al verstedelik, maar sedertdien het die verstedelikingskoers versnel en selfs in die ontwikkelende lande (kyk “developing countries”) is ongeveer die helfte van die bevolking deesdae verstedelik. ’n Duisend jaar gelede was sekuriteit waarskynlik die vernaamste rede om na ’n stad te verhuis want die stede was ommuur en het beskerming teen vyandige strooptogte en plunderende bendes gebied. Sedertdien het ekonomiese redes die belangrikste dryfveer vir verstedeliking geword. Mynbou, industriële ontwikkeling en die vervaardigingsbedryf bied werksgeleenthede en mense verlaat die platteland om in die stede betalende arbeid te soek. Gelyktydig met verstedeliking het groot stede groter gegroei, en verstedeliking skep probleme vir sowel die stedelike as die landelike bevolking. Stedelike wildgroei het dienslewerings-, vervoer-, behuisings-, misdaad- en allerlei ander probleme in die stede geskep, maar in die landelike gebiede het die krimpende bevolking ook probleme geskep. In die ontwikkelende lande is daar nou te min mense om die land behoorlik te bewerk en die voedselproduksie daal. In die ontwikkelde lande verlaag landbouproduksie egter nie omdat meganiese implemente handearbeid vervang. Aangesien die landelike bevolking nou so klein is, is dienslewering onekonomies en die mense moet na die stede gaan vir mediese, opvoedkundige, professionele en kommersiële dienste. Al hierdie probleme wat uit verstedeliking gespruit het, is die realiteite van die wêreld waarin ons vandag leef.