stedelike ekologie — Afrikaans
Die onderlinge verwantskappe tussen die organiese (lewende) en anorganiese (nie-lewende) komponente binne die grense van ’n stedelike sisteem (of stad). Aangesien daar so baie mensgemaakte goedere en lewende wesens in ’n stad is, is die interaksienetwerk uiters kompleks (kyk “ecology”). Dis moeilik om te begryp dat daar interaksie tussen twee geboue (noem hulle A en B) kan wees, maar daar is. Een van hulle kan die toeganklikheid tot die ander een belemmer, of die werkers in gebou A kom dikwels laat by die werk aan omdat daar so baie mense in gebou B werk dat die openbare vervoerstelsel dit nie kan hanteer nie. Op ’n soortgelyke wyse is daar interaksie tussen al die mensgemaakte verskynsels binne ’n stad. Benewens hierdie interaksies, is daar interaksies tussen die onderskeie lewende wesens (insluitend mense, troeteldiere en wilde diere) in die stad en ook tussen die lewende wesens en die nie-lewende komponente van die stad. Ekologie is ’n verhoudingsterm en ’n stad is niks anders as ’n ekosisteem nie (kyk “ecosystem”). Die volhoubaarheid van enige ekosisteem word bepaal deur ’n horde terugvoerlusse (kyk “feedback loop”). Daar is tallose sulke lusse in enige stedelike sisteem. Net soos in natuurlike ekosisteme, is die terugvoerlusse van die uiterste belang. Indien hulle ineenstort, stort die hele stedelike sisteem ineen en chaos neem oor terwyl ontug, misdaad en korrupsie gedy. (Kyk “gentrification”.)